V. Hoe bly ‘n satelliet in die lug?

A. ‘n Satelliet bly in sy wentelbaan as gevolg van gravitasie.  Die satelliet is eintlik besig om konstant na die Aarde te val.  Sien dit so:
As jy ‘n bal gooi, horisontaal met die Aarde se oppervlak, gaan die bal vorentoe, maar gravitasie veroorsaak ook dat die bal met ‘n boog na onder gaan en uit eindelik op die grond land.  Hoe harder jy die bal vorentoe gooi, hoe verder gaan die bal trek voor die die grond tref.  Gestel nou jy kan die bal so hard gooi dat die bal eers ‘n paar duisend kilometer verder land, so ver dat die Aarde se ronding al onder die bal verander het.  Gestel nou jy kan nog harder gooi, so hard dat die Aarde se ronding veroorsaak dat die bal nooit aan die grond raak nie.  So die bal val, maar hy val die Aarde konstant mis.  Dit is presies wat met ‘n satelliet gebeur.  Dit beweeg so vinnig vorentoe terwyl dit val, dat die die Aarde bly mis val.  Dit word ‘n wentelbaan genoem.

Illistrasie hier gekry.

V.Hoekom bly die DSTV satelliet dan net op een plek en draai nie om die Aarde nie?

A. Hoe hoër die wentelbaan, hoe langer neem die satelliet om een omwenteling te voltooi.  Op ‘n sekere hoogte gaan die satelliet net so lank neem om rondom die Aarde te wentel as wat die Aarde neem om self een rotasie te voltooi (‘n dag).  As die satelliet se wentelbaan rondom die ewenaar is, en op daardie hoogte is (ongeveer 36 000 km bo die Aarde), gaan die satelliet dus presies saam met die Aarde draai, en van ‘n punt op die Aarde lyk of dit stil staan in die lug.  In der waarheid is dit net besig om saam met daardie punt rondom die middelpunt van die Aarde te roteer.  So ‘n satelliet se wentelbaan word ‘n geostasionêre of geosinchrone wentelbaan genoem.  Geo beteken “Aarde”, en stasionêr of sinchroon beteken “staan stil ten opsigte van”.  Kommunikasie satelliete en weer satelliete is voorbeelde van tipise geostasionêre satelliete.  As die DSTV satelliet nie geostasioner was nie, en rondbeweeg het ten opsigte van ‘n punt op die Aarde, sou elkeen van ons se DSTV skottels moes rondbeweeg om die satelliet te volg, wat die hele stelsel onbruikbaar duur sou maak.

V.Hoekom bots satelliete nie, is daar nie baie daar bo nie?

A. Satelliet bots wel.  In Februarie 2009 het ‘n ou Russiese satelliet met ‘n Iridium kommunikasie satelliet gebots en in meer as 2500 stukke gebreek.  Daardie stukke is nou ruimterommel wat stadig terug wentel Aarde toe.  Dit word alles gemonitor deur die U.S. Space Survailance Network, en die operateurs van b.v. NASA se satelliete monitor dit en stuur hulle satelliete so dat dit die rommel vermy.  Hoewel daar duisende mensgemaakte objekte is wat rondom die Aarde wentel, moet mens ook in gedagte hou dat daar baie plek daar bo is, en die kanse dat 2 objekte bots redelik skraal is.

Dink so daaraan:  As die hele Aarde ‘n plat stuk grond was, met geen oseane nie, en ons het die hoeveelheid motors op Aarde eweredig versprei oor die oppervlak, en almal het mooi teen ‘n konstante spoed in ‘n reguit lyn gery.  Die motors sou so ver van mekaar wees dat die moontlikheid van ‘n botsing redelik skraal sou wees.  Nou en dan sou hulle paaie miskien kruis, maar vir ‘n botsing sal beide motors by die kruispunt moet wees op dieselfde tyd.  Vir satelliete se wentelbane is daar nog ‘n derde dimensie wat bykom, naamlik hoogte. In die prent hier onder (van Nasa se uitstekende artikel oor wentelbane)  stel elke punt ‘n satelliet in ‘n lae Aarde wentelbaan voor.  Dit wys dat daar wel baie satelliete daar bo is, maar op die skaal van die prent is die punte heelwat groter as wat die satelliet self is.  As dit op skaal geteken sou word, sou die swart punte onsigbaar klein gewees het.

V. Hoe hoog gaan SumbandilaSat wentel?

A. SumbandilaSat gaan in ‘n lae Aarde wentelbaan (Low Earth Orbit, LEO) wees, wat ongeveer 500km bo die Aarde gaan wees.  Dit is ‘n nuttige wentelbaan vir satelliete wat foto’s neem om verskeie redes (lees meer in die Nasa artikel).  Nog ‘n interessantheid oor SumbandialaSat se wentelbaan is dat dit rondom die pole gaan wentel.  Terwyl die satelliet rondom die Aarde wentel, draai die Aarde, en skuif die wentelbaan dus met elke omwenteling ten opsigte van die Aarde.  So kan die satelliet oor tyd elke punt op Aarde fotografeer.

sun-synchronous

Illustrasie van hier af.

Verdere inligting

Lees meer oor wentelbane in hierdie uitstekende artikel van Nasa.

Enige ander vrae of opmerkings?

Advertisements

Uit eindelik, na bykans 3 jaar se uitstel, wag, verskonings, (leuens), mense se loopbane, lewens en gesinne wat omver gewerp is en politici burokrasie (die oorsaak van die voorafgaande), word SumbandilaSat op Dinsdag 15 September 2009, om 17:55 SA tyd (GMT+2) gelanseer.  Popular Mechanics het in Nov 2006 ‘n artikel gehad oor die oorspronklike lansering wat in Desember 2006 sou plaasvind.

sumbi-medium

Met die oploop na die lansering gaan daar dus ‘n paar satelliet verwante inskrywings hier verskyn.

Ons skop sommer af met ‘n paar algemene vrae:

V. Wat doen die satelliet?
A. Die hoof loonvrag (payload) is ‘n kamera.  Dit gaan gebruik word om lugfoto’s te neem.

V. Waarvoor word die foto’s gebruik?
A. Lugfoto’s is baie nuttig en word vir verskeie toepassings aangewend.  Voorbeelde van velde waar dit gebruik word is landbou, bosbou, geografie, geologie.  Lees meer op wikipedia.

V. Hoe groot is die satelliet?
A. Ongeveer die hoogte en breedte van ‘n wasmasjien, maar die helfte so diep.

V. Hoe word dit gelanseer?
A. Dit sou oorspronklik deur ‘n omgeboude interkontinentale ballistiese vuurpyl (Shtil tipe) uit ‘n duikboot naby Murmansk, Rusland gelanseer geword het.  Na ‘n hele ruk se politieke toutrekkery en vertragings is dit toe verander na ‘n lansering met ‘n Soyuz vuurpyl uit Baykonur in Kazakstan.  SumbandilaSat is een van 5 satelliete op die vuurpyl, met die grootste een (die hoof loonvrag) ‘n Russiese weersatelliet.

Enige vrae is welkom, ek sal my bes probeer om hulle te antwoord.  More dan meer oor die wentelbane van satelliete en vrae soos “Hoekom bots die satelliete nie met mekaar nie?”.

Slacktivism
Volgens Urban Dictionary : The act of participating in obviously pointless activities as an expedient alternative to actually expending effort to fix a problem.

Ek hou van die woord.  Ek gaan dit vertaal met slaptivisme.  Afrikaners veral is mal oor slaptivisme.  Ons sal petisies teken en vir koerante skryf en rondom braaivleisvure kla tot die bier en brandewyn op is.  Maar om iets te doen aan ‘n probleem is darem te veel gevra.  Slaptivisme laat jou voel asof jy besig is om iets te doen aan die probleem, maar eintlik rig jy niks uit nie.  Hoekom is slaptivisme so gewild?  Omdat dit makliker is as om iets daadwerklik aan ‘n probleem te doen,  en goedkoper.

As jy saam stem en slaptivisme wil stop, sluit aan by my faceboek groep “Hou op om ‘n slaptivis te wees!”.  Nee wag, hou eerder net self op om ‘n slaptivis te wees, en volgende keer as jy rondom die braaivleisvuur staan met jou 2de bier, en iemand begin weer kla oor misdaad in ons land, vra hom of haar bietjie wat hulle al gedoen het om die probleem te probeer oplos.  Wees ook sommer reg met ‘n antwoord op die vraag oor wat mens nou eintlik self kan doen daaraan.  Vra ‘n bietjie rond, gaan lê ‘n besoek af by jou polisiestasie en vra hoe jy kan help om die probleem op te los.

Bertus! die peisangverkoper vra dat ek kommentaar lewer op hierdie artikel.  Dit handel oor ‘n groep wetenskaplikes wat ‘n nuwe tegniek voorstel om kwantum gravitasie berekeninge mee te doen.  Dit is nodig omdat Einstein se algemene relatiwiteitsteorie en kwantum meganika, twee modelle of teorieë in fisika, nie 100% versoenbaar is wanneer dit kom by gravitasie nie.

Daardie artikel oor kwantum meganika en algemene relatiwiteit wat nie kan saamstem nie praat oor iets wat baie mense buite die fisika nie besef nie, naamlik dat daar verskeie teorieë / modelle is wat fisiese heelal probeer verduidelik, wat nie noodwendig 100% saam stem nie.  Dit is nie ‘n swart en wit wêreld waar net een verklaring reg is en die res verkeerd nie.

‘n Voorbeeld:
Newton se fisika, soos mens dit op skool leer, werk byvoorbeeld baie goed as jy kyk op die skaal waarop mense kan waarneem (‘n Bal wat rol en met ‘n ander bal bots byvoorbeeld).  Maar sodra jy op ‘n kleiner skaal, in die atoom, begin kyk, werk dit glad nie meer nie (terloops ook nie op ‘n groter skaal, met dinge soos swart gate nie).  Dit beteken nie Newton is heeltemal verkeerd nie, bloot dat sy model net geldig is onder sekere omstandighede (en dis maklik, daarom word dit op skool geleer).  Kwantum meganika is wiskundig baie moeiliker om te verstaan en gebruik, maar dit verduidelik weer die fisika van elektrone baie beter as Newton.  Die holy grail van fisika is om een model, of een teorie te kry wat onder alle omstandighede werk, ‘n sogenaamde grand unified theory.  Of dit enigsins moontlik is weet ons nie eens nie.  Wetenskaplike teorieë is nie wette van die heelal nie; dit is eerder pogings om die heelal se werking te probeer verduidelik.

Dit het my geweldig gepla toe ek fisika geswot het dat dinge nie net wit en swart kan wees nie.  Tot so ‘n mate dat ek nie veel van my kwantum fisika kursusse gehou het nie, in elk geval nie tot ek ‘n fundamentele verandering gemaak het aan hoe ek hieroor dink nie.

As jy weer ‘n reënboog sien, doen die volgende:  voltooi die denkbeeldige sirkel wat die boog sal maak as dit ‘n volle sirkel is.  Die middelpunt van daardie sirkel sal  die skadu van jou kop wees.  Dit gee jou ‘n leidraad onder watter omstandighede ‘n mens ‘n reënboog kan sien.  Daar moet reën wees wat deur direkte sonlig getref word, en die son moet direk agter jou wees terwyl jy na die reënboog kyk.  Die skadu van jou kop moet ook minder as 42 grade onder die horison wees, wat beteken jy kan net in die oggend en laat middag ‘n reënboog sien, voor die son te hoog sit, en jou skadu dus te laag is.

Lees meer hier, en kyk na hierdie simulasie van hoe ‘n waterdruppel die lig breek.

Wanneer laas het jy ‘n wit perd gesien?  Drink die glas water terwyl jy kop onderstebo staan.  WHA!

As mens aan die hik raak is daar gewoonlik net soveel raad hoe om op te hou as wat daar mense rondom jou is.  Klaarblyklik is ‘n moontlike oplossing dat die persoon wat hik se rektum gemasseer word.  Dit kan glo die hikkery onmiddelik stopsit.

Was jy al ooit in een van daardie ou katedrale of ‘n baie ou gebou, en dan vertel die toerleier jou dat die vensters dikker is aan die onderkant omdat die glas eintlik ‘n baie dik vloeistof is wat stadig afwaarts vloei a.g.v. die gravitasie?  Leuens.  Glas vloei nie soos ‘n vloeistof nie.  Die rede hoekom vensters soms dikker is aan die onderkant is omdat die glas vervaardigingsproses lank terug nie perfekte eweredige glas geproduseer het nie.  Dit is net so algemeen om vensters te kry wat dikker is aan die kante, en aan die bo-kant.

Verwysing