V. Hoe bly ‘n satelliet in die lug?

A. ‘n Satelliet bly in sy wentelbaan as gevolg van gravitasie.  Die satelliet is eintlik besig om konstant na die Aarde te val.  Sien dit so:
As jy ‘n bal gooi, horisontaal met die Aarde se oppervlak, gaan die bal vorentoe, maar gravitasie veroorsaak ook dat die bal met ‘n boog na onder gaan en uit eindelik op die grond land.  Hoe harder jy die bal vorentoe gooi, hoe verder gaan die bal trek voor die die grond tref.  Gestel nou jy kan die bal so hard gooi dat die bal eers ‘n paar duisend kilometer verder land, so ver dat die Aarde se ronding al onder die bal verander het.  Gestel nou jy kan nog harder gooi, so hard dat die Aarde se ronding veroorsaak dat die bal nooit aan die grond raak nie.  So die bal val, maar hy val die Aarde konstant mis.  Dit is presies wat met ‘n satelliet gebeur.  Dit beweeg so vinnig vorentoe terwyl dit val, dat die die Aarde bly mis val.  Dit word ‘n wentelbaan genoem.

Illistrasie hier gekry.

V.Hoekom bly die DSTV satelliet dan net op een plek en draai nie om die Aarde nie?

A. Hoe hoër die wentelbaan, hoe langer neem die satelliet om een omwenteling te voltooi.  Op ‘n sekere hoogte gaan die satelliet net so lank neem om rondom die Aarde te wentel as wat die Aarde neem om self een rotasie te voltooi (‘n dag).  As die satelliet se wentelbaan rondom die ewenaar is, en op daardie hoogte is (ongeveer 36 000 km bo die Aarde), gaan die satelliet dus presies saam met die Aarde draai, en van ‘n punt op die Aarde lyk of dit stil staan in die lug.  In der waarheid is dit net besig om saam met daardie punt rondom die middelpunt van die Aarde te roteer.  So ‘n satelliet se wentelbaan word ‘n geostasionêre of geosinchrone wentelbaan genoem.  Geo beteken “Aarde”, en stasionêr of sinchroon beteken “staan stil ten opsigte van”.  Kommunikasie satelliete en weer satelliete is voorbeelde van tipise geostasionêre satelliete.  As die DSTV satelliet nie geostasioner was nie, en rondbeweeg het ten opsigte van ‘n punt op die Aarde, sou elkeen van ons se DSTV skottels moes rondbeweeg om die satelliet te volg, wat die hele stelsel onbruikbaar duur sou maak.

V.Hoekom bots satelliete nie, is daar nie baie daar bo nie?

A. Satelliet bots wel.  In Februarie 2009 het ‘n ou Russiese satelliet met ‘n Iridium kommunikasie satelliet gebots en in meer as 2500 stukke gebreek.  Daardie stukke is nou ruimterommel wat stadig terug wentel Aarde toe.  Dit word alles gemonitor deur die U.S. Space Survailance Network, en die operateurs van b.v. NASA se satelliete monitor dit en stuur hulle satelliete so dat dit die rommel vermy.  Hoewel daar duisende mensgemaakte objekte is wat rondom die Aarde wentel, moet mens ook in gedagte hou dat daar baie plek daar bo is, en die kanse dat 2 objekte bots redelik skraal is.

Dink so daaraan:  As die hele Aarde ‘n plat stuk grond was, met geen oseane nie, en ons het die hoeveelheid motors op Aarde eweredig versprei oor die oppervlak, en almal het mooi teen ‘n konstante spoed in ‘n reguit lyn gery.  Die motors sou so ver van mekaar wees dat die moontlikheid van ‘n botsing redelik skraal sou wees.  Nou en dan sou hulle paaie miskien kruis, maar vir ‘n botsing sal beide motors by die kruispunt moet wees op dieselfde tyd.  Vir satelliete se wentelbane is daar nog ‘n derde dimensie wat bykom, naamlik hoogte. In die prent hier onder (van Nasa se uitstekende artikel oor wentelbane)  stel elke punt ‘n satelliet in ‘n lae Aarde wentelbaan voor.  Dit wys dat daar wel baie satelliete daar bo is, maar op die skaal van die prent is die punte heelwat groter as wat die satelliet self is.  As dit op skaal geteken sou word, sou die swart punte onsigbaar klein gewees het.

V. Hoe hoog gaan SumbandilaSat wentel?

A. SumbandilaSat gaan in ‘n lae Aarde wentelbaan (Low Earth Orbit, LEO) wees, wat ongeveer 500km bo die Aarde gaan wees.  Dit is ‘n nuttige wentelbaan vir satelliete wat foto’s neem om verskeie redes (lees meer in die Nasa artikel).  Nog ‘n interessantheid oor SumbandialaSat se wentelbaan is dat dit rondom die pole gaan wentel.  Terwyl die satelliet rondom die Aarde wentel, draai die Aarde, en skuif die wentelbaan dus met elke omwenteling ten opsigte van die Aarde.  So kan die satelliet oor tyd elke punt op Aarde fotografeer.

sun-synchronous

Illustrasie van hier af.

Verdere inligting

Lees meer oor wentelbane in hierdie uitstekende artikel van Nasa.

Enige ander vrae of opmerkings?