Bertus! die peisangverkoper vra dat ek kommentaar lewer op hierdie artikel.  Dit handel oor ‘n groep wetenskaplikes wat ‘n nuwe tegniek voorstel om kwantum gravitasie berekeninge mee te doen.  Dit is nodig omdat Einstein se algemene relatiwiteitsteorie en kwantum meganika, twee modelle of teorieë in fisika, nie 100% versoenbaar is wanneer dit kom by gravitasie nie.

Daardie artikel oor kwantum meganika en algemene relatiwiteit wat nie kan saamstem nie praat oor iets wat baie mense buite die fisika nie besef nie, naamlik dat daar verskeie teorieë / modelle is wat fisiese heelal probeer verduidelik, wat nie noodwendig 100% saam stem nie.  Dit is nie ‘n swart en wit wêreld waar net een verklaring reg is en die res verkeerd nie.

‘n Voorbeeld:
Newton se fisika, soos mens dit op skool leer, werk byvoorbeeld baie goed as jy kyk op die skaal waarop mense kan waarneem (‘n Bal wat rol en met ‘n ander bal bots byvoorbeeld).  Maar sodra jy op ‘n kleiner skaal, in die atoom, begin kyk, werk dit glad nie meer nie (terloops ook nie op ‘n groter skaal, met dinge soos swart gate nie).  Dit beteken nie Newton is heeltemal verkeerd nie, bloot dat sy model net geldig is onder sekere omstandighede (en dis maklik, daarom word dit op skool geleer).  Kwantum meganika is wiskundig baie moeiliker om te verstaan en gebruik, maar dit verduidelik weer die fisika van elektrone baie beter as Newton.  Die holy grail van fisika is om een model, of een teorie te kry wat onder alle omstandighede werk, ‘n sogenaamde grand unified theory.  Of dit enigsins moontlik is weet ons nie eens nie.  Wetenskaplike teorieë is nie wette van die heelal nie; dit is eerder pogings om die heelal se werking te probeer verduidelik.

Dit het my geweldig gepla toe ek fisika geswot het dat dinge nie net wit en swart kan wees nie.  Tot so ‘n mate dat ek nie veel van my kwantum fisika kursusse gehou het nie, in elk geval nie tot ek ‘n fundamentele verandering gemaak het aan hoe ek hieroor dink nie.