Augustus 2009


Bertus! die peisangverkoper vra dat ek kommentaar lewer op hierdie artikel.  Dit handel oor ‘n groep wetenskaplikes wat ‘n nuwe tegniek voorstel om kwantum gravitasie berekeninge mee te doen.  Dit is nodig omdat Einstein se algemene relatiwiteitsteorie en kwantum meganika, twee modelle of teorieë in fisika, nie 100% versoenbaar is wanneer dit kom by gravitasie nie.

Daardie artikel oor kwantum meganika en algemene relatiwiteit wat nie kan saamstem nie praat oor iets wat baie mense buite die fisika nie besef nie, naamlik dat daar verskeie teorieë / modelle is wat fisiese heelal probeer verduidelik, wat nie noodwendig 100% saam stem nie.  Dit is nie ‘n swart en wit wêreld waar net een verklaring reg is en die res verkeerd nie.

‘n Voorbeeld:
Newton se fisika, soos mens dit op skool leer, werk byvoorbeeld baie goed as jy kyk op die skaal waarop mense kan waarneem (‘n Bal wat rol en met ‘n ander bal bots byvoorbeeld).  Maar sodra jy op ‘n kleiner skaal, in die atoom, begin kyk, werk dit glad nie meer nie (terloops ook nie op ‘n groter skaal, met dinge soos swart gate nie).  Dit beteken nie Newton is heeltemal verkeerd nie, bloot dat sy model net geldig is onder sekere omstandighede (en dis maklik, daarom word dit op skool geleer).  Kwantum meganika is wiskundig baie moeiliker om te verstaan en gebruik, maar dit verduidelik weer die fisika van elektrone baie beter as Newton.  Die holy grail van fisika is om een model, of een teorie te kry wat onder alle omstandighede werk, ‘n sogenaamde grand unified theory.  Of dit enigsins moontlik is weet ons nie eens nie.  Wetenskaplike teorieë is nie wette van die heelal nie; dit is eerder pogings om die heelal se werking te probeer verduidelik.

Dit het my geweldig gepla toe ek fisika geswot het dat dinge nie net wit en swart kan wees nie.  Tot so ‘n mate dat ek nie veel van my kwantum fisika kursusse gehou het nie, in elk geval nie tot ek ‘n fundamentele verandering gemaak het aan hoe ek hieroor dink nie.

As jy weer ‘n reënboog sien, doen die volgende:  voltooi die denkbeeldige sirkel wat die boog sal maak as dit ‘n volle sirkel is.  Die middelpunt van daardie sirkel sal  die skadu van jou kop wees.  Dit gee jou ‘n leidraad onder watter omstandighede ‘n mens ‘n reënboog kan sien.  Daar moet reën wees wat deur direkte sonlig getref word, en die son moet direk agter jou wees terwyl jy na die reënboog kyk.  Die skadu van jou kop moet ook minder as 42 grade onder die horison wees, wat beteken jy kan net in die oggend en laat middag ‘n reënboog sien, voor die son te hoog sit, en jou skadu dus te laag is.

Lees meer hier, en kyk na hierdie simulasie van hoe ‘n waterdruppel die lig breek.

Wanneer laas het jy ‘n wit perd gesien?  Drink die glas water terwyl jy kop onderstebo staan.  WHA!

As mens aan die hik raak is daar gewoonlik net soveel raad hoe om op te hou as wat daar mense rondom jou is.  Klaarblyklik is ‘n moontlike oplossing dat die persoon wat hik se rektum gemasseer word.  Dit kan glo die hikkery onmiddelik stopsit.

Was jy al ooit in een van daardie ou katedrale of ‘n baie ou gebou, en dan vertel die toerleier jou dat die vensters dikker is aan die onderkant omdat die glas eintlik ‘n baie dik vloeistof is wat stadig afwaarts vloei a.g.v. die gravitasie?  Leuens.  Glas vloei nie soos ‘n vloeistof nie.  Die rede hoekom vensters soms dikker is aan die onderkant is omdat die glas vervaardigingsproses lank terug nie perfekte eweredige glas geproduseer het nie.  Dit is net so algemeen om vensters te kry wat dikker is aan die kante, en aan die bo-kant.

Verwysing

As jy koud kry is die kans nie beter dat jy ‘n verkoue gaan kry nie.  Verkoues kom wel meer algemeen voor in kouer tye van die jaar, maar dit is waarskynlik eerder omdat mense in die winter meer tyd binnenshuis spandeer, waar die kieme makliker oorgedra kan word (omdat hulle nader aan mekaar is).  Daar is ook geen bewyse dat oefening of wat jy eet jou kanse om ‘n verkoue te kry beïnvloed nie.  Daar is wel gevind dat stres en allergieë wat jou neus of keel affekteer jou meer ontvanklik kan maak vir die virus.

Verwysing 1
Verwysing 2

Die storie dat die Groot Muur van China die enigste mensgemaakte objek is wat van die Maan af gesien kan word, is net ‘n storie.  Dit is glad nie sigbaar van die maan af met die blote oog nie.  ‘n Variasie hierop is dat die Groot Muur die enigste mensgemaakte objek is wat uit die ruimte gesien kan word.  Ook nie waar nie, want vele mensgemaakte objekte is sigbaar uit die ISS (wat op ‘n hoogte van ongeveer 350km om die Aarde wentel).  Die Groot Muur is egter nie een van hulle nie, dit is glo baie moeilik om te sien vanuit die ISS.

Die oorsprong van hierdie storie is nie seker nie, maar kom van baie lank voor die eerste Maanlanding af, ten minste 1938.

Verwysing

As jy jou steak in ‘n baie warm pan, of oor baie warm kole braai, seël jy nie die vog in nie.  Die bruin kors wat vorm skep wel nuwe smake en geure (Maillard reaksie), maar kan in der waarheid veroorsaak dat die kos effe minder vog in het.  Dit is dus ‘n illusie dat die ekstra smaak veroorsaak word deur die vog wat ingeseël is.

Verwysing

Volgende Blad »