Mens ‘n ‘n lisensie nodig om ‘n vuurwapen te besit, of om ‘n motor te bestuur, of om ‘n TV te besit.  Maar om ‘n kind groot te maak?  Gelukkig is daar darem voorgeboorteklasse.

Meeste goed wat jy vertel word by die klas is darem common sense, en maak sin.  Moenie die kind hard op die kop slaan nie.  Moenie die kind se oordromme stukkend steek met oorstokkies nie.  Moenie die kind laat val nie. Net jammer die tannie sukkel effe om by haar storie te hou (selfs meer as ek).  Die les gaan oor hoe om die kleinding te bad.  Sy begin ‘n sin om te verduidelik watter roompies om te gebruik vir nappy rash, en eindig hom met die arme kinders in China wat dood is van die formulemelk wat hulle gedrink het.  Tussenin het sy ‘n draai gaan maak by die crèche wat die kinders Valium voer.

Soms het dit ook gelyk of sy so sterk oor haar standpunt voel dat sy die waarheid bietjie sal aandik om haar punt te maak.  Soos dat weggooi doeke mens meer as R25 000 gaan kos oor die 1ste 2 jaar, teenoor R2 500 vir die nuwe soort wasbare doeke.  Hoewel ek saamstem dat die wasbare doeke beter is vir die omgewing, is R25 000 bietjie erg.  Meeste skattings wat ek kan kry is dat jou kind so tussen 4000 en 5000 doeke gaan gebruik oor die eerste 2 jaar.  Om by R25 000 uit te kom moet die weggooi doeke wat sy koop R5 – R6 elk kos.  R1.50 – R2 is nader aan die waarheid.

Ewenwel, ons het nogtans baie geleer. Soos dat babas in die baarmoeder van hulle pa se diep stem hou, en dat mens vir hulle moet sing van 20 weke af. So nou hoef ek nie meer net in die stort te sing nie.