Weg gesteek in die suidelike Overberg, tussen 2 klein dorpies op ‘n plaas, is een van die beste seekos-eet ervarings wat jy ooit sal ervaar.  Die restaurant is klein, met minder as 10 tafels.  Die chef ‘n Portugese vrou uit Mosambiek, met 1 kelner wat haar uithelp, ook van Mosambiek af.

Die spyskaart is nêrens op skrif nie, sy kom vertel vir jou by jou tafel van die wonderlike geregte wat sy vir jou kan maak.  Sy bring vir jou ‘n kurktrekker en glase sodat jy self die bottel wyn wat jy saamgebring het kan oopmaak, want hulle is nie gelisensieerd nie.

Die kos is fantasties, meestal seekos, alles met ‘n Portugese / Mosambiekse hoek. Ons het die paella geëet, met massiewe prawns, heerlike calamari en mossels, en met net ‘n effense brand. Ander opsies was regte Portugese sardyne en ‘n tipies Mosambiekse koljander en knoffel sop (ek moet bieg, ek het ophou luister na sy die paella genoem het).

Dis een van daardie wonderlike plekkies waarop mens per ongeluk afkom, en dan vir niemand van wil vertel nie, want netnou word dit gewild en dan verander die atmosfeer soos hordes mense soontoe stroom oor naweke. Maar tog sal dit verkeerd wees om so iets vir jouself te hou; so ‘n wonderlike ervaring moet gedeel word, anders roep die klippe dalk uit.

As jy jouself eendag in die Bredasdorp omgewing bevind, gaan besoek gerus die Casa del Sol. Dit is geleë omtrent 10 km voor Waenhuiskrans (Arniston), in ‘n plaashuis wat jy maklik kan miskyk as jy te vinnig daar verby ry. Gee haar ‘n lui by 0284459890 of 0761901792. Onthou om jou eie wyn te neem, en genoeg kontant, want daar is nie kredietkaart fasiliteite nie.