Johan Swarts vra of hy eintlik net so skuldig is soos die diewe wat sy CD-speler uit sy motor gesteel het, omdat hy CDs kopieer. Ek lei af sy vraag gaan oor reg of verkeerd ten opsigte van moraliteit / etiek, eerder as die wet. Die antwoord hang af van hoe jy na die konsep van intellektuele eiendom kyk dink ek.

Eerstens is dit belangrik om te noem dat kopiereg skending nie = diefstal nie.  Net so min as wat ‘n spoedoortreding = diefstal.  Dit is ‘n oortreding van ‘n heel ander wet.   Diefstal was nog altyd verkeed, sedert wette bestaan het, kopiereg het eers in die laaste paar eeue ontstaan.  Dit is belangrik om die debat ten minste op die regte plek te begin.

Kom ons begin by hoe kopiereg ontstaan het. Dit het begin na die eerste boek drukkerye begin het. Voor dit was die proses om ‘n boek te kopieer letterlik iemand wat met die hand die boek oorgeskryf het. Dit was eerder gesien as ‘n groot eer as iemand jou boeke kopieer, want hulle was bereid om al daardie moeite te doen omdat jou boek goed genoeg is.

Kopiereg het ook verander soos die samelewing se siening verander het van wat regverdig is. Toe fotokopieerders uitkom, het mense net dele van ‘n boek gekopieer in biblioteke, en dit is gesien as “fair use”. Voor digitale musiek was dit aanvaarbaar om liedjies op te neem van die radio af en ‘n mix tape te maak, maar toe digitale musiek dit te maklik maak om perfekte kwaliteit musiek oneindige kere te kopieer word dit ‘n groot kwessie. Toe word kopiëring skielik = diefstal.   Afrikaanse kunstenaars baat ook grootliks uit die “ek is trots op Afrikaans en moet dit beskerm” gevoel, en baie mense sal weier om enige Afrikaanse musiek te kopieer maar nie skroom om Britney of Maria Carrey se CD te kopieer nie.

Die hele idee van hoe kunstenaars geld maak moet hersien word. Hoekom moet meeste ander mense dag tot dag werk om betaal te word, terwyl kunstenaars vir ‘n paar maande werk om ‘n CD te maak en dan jare daarna nog geld maak daaruit? Die idee van wat hulle produk is moet hersien word. Hulle moet hulle konserte / optredes as die produk sien, met die CD net ‘n advertensie wat mense na die konserte toe bring. En dis presies waarvoor die platemaatskappye so bang is. Dan gaan hulle skielik nie meer beheer hê oor die hele musiekindustrie nie. Dit is reeds besig om in daardie rigting te gaan, Radiohead en nine inch nails is goeie voorbeelde van mense wat verstaan dat die nuwe besigheidsmodel kan werk.  Die platemaatskappye probeer weer in die ander rigting trek deur tegnologie soos DRM en selfs onderduimse tegnieke, maar op die ou end stry hulle onsuksesvol teen verandering soos die perdekar vervaardiggers na die binnebrandenjin uitgevind is.

Die idee van intellketuele eiendom, en dat kopiereg die enigste manier is om motivering te bied vir iemand om musiek, boeke of sagteware te skep is besig om te verander.  Mense begin agterkom dat jy eerder ‘n diens moet lewer as ‘n produk.