Jy kan deel wees van ‘n amptelike Guiness wêreldrekord.  En jy hoef nie eens moeg te raak, of soveel te eet dat jou maag seer word nie.  Al wat jy moet doen, is om Firefox 3 hier af te laai, vandag nog (voor 20:16 SA tyd op 18/6/2008).  So kan jy help om Firefox 3 die rekord te gee vir die meeste downloads in 24 uur nog ooit.  Die mikpunt is 5 miljoen, en teen 08:46 SA tyd was dit reeds oor 4,5 miljoen.  Maar SA steek maar sleg af teen die res van die wêreld met net meer as 5000.  Slovakia en Slovenië het meer as ons!

Gaan kyk sommer nou, daar’s ‘n oulike kaart wat wys hoeveel elke land al afgelaai het.  Jy kan selfs ‘n amptelike Guinness World Record sertifikaat aflaai wat wys dat jy deel is van die wêreldrekord.  Hang dit teen jou muur, langs jou Comrades medalje en die foto waar jy jou stukkie van daardie Spur wêreldrekord hamburger eet.  En wanneer jou ouma volgende jaar vir jou die nuwe uitgawe van die Guinness World Records vir jou verjaardag gee, kan jy haar wys jy is ook daarin.

En as die gedagte van ‘n wêreldrekord jou nie aantrek nie, behoort die blote feit dat Firefox 3 die vinnigste, veiligste en beste webblaaier nog ooit is jou te dwing om dit af te laai.  Toe! Waarvoor wag jy?

EDIT: O ja, Zee herinner my, dis in Afrikaans ook beskikbaar.  Gratis sagteware, IN AFRIKAANS!  En jy hoef nie eens sleg te voel soos wanneer jy ‘n Steve CD copy nie, want jy mag.  Ek sal amper so ver gaan as om te sê jy is nie ‘n goeie Afrikaner as jy dit nie aflaai nie.