Enige iemand wat nog ooit gedink het die doodstraf is ‘n goeie idee, lees John Grisham se “The Innocent Man : Murder and Injustice in a Small Town” (Kalahari, Amazon).  Dis Grisham se eerste nie-fiksie boek, en gaan oor hoe Ron Williamson en Dennis Fritz doodstraf gekry het vir ‘n moord wat hulle nie gepleeg het nie.  Onskuldige mense wat doodstraf kry is waarskynlik die grootste rede hoekom ek teen die doodstraf is, maar nie die enigste nie.

Ek sien Jacob Zuma reken daar moet ‘n referendum gehou word om te besluit of die doodstraf moet terugkom.  Ek hoop maar net deel van sy huidige taktiek waar hy presies sê wat die groep wat hy toespreek wil hoor, al is dit lynreg teen wat hy die vorige of volgende dag sê.  Want as hy dom genoeg is om te dink dat demokrasie beteken die massas besluit oor alles, en dat die grondwet dus niks meer werd is nie, gaan dit baie vinnig baie ongemaklik word in SA vir ‘n hele klompie minderheidsgroepe.  Dit is waarvoor ‘n grondwet daar is, om sekerre regte te waarborg ten alle tye, en nie net wanneer die meerderheid so voel nie.  Net omdat die meerheid mense dink om wraak te neem teen moordenaars gaan iets oplos, beteken nie dit is die regte ding om te doen nie.