Hoekom is dit so moeilik om hierdie tyd van die jaar iets te post? Omdat ek in my gedagtes al reeds op ‘n tropiese strand lê? Omdat ek na ek bedank het net nie meer omgee nie?

Die afgelope week het ek ‘n paar keer gepoog om ‘n post te skryf. Gister byvoorbeeld het ek ‘n lang relaas geskryf oor hoe ek met Max du Preez saamstem (soms), en wat presies ek dink nodig is voor ons werklik demokrasie in SA sal hê. Toe lees ek dat Van Zyl Slabbert se aanbevelings dalk tog wel in die volgende verkiesing geïmplementeer gaan word.

Nog iets waaroor ek meestal sterk voel, is goeie of slegte diens, en ek wou skryf hoe goed Canon se diens nou eintlik is om my kamera gratis te herstel, en selfs vir die posgeld terug te betaal, al is die kamera al 5 jaar oud en nie meer onder waarborg nie. Net omdat hulle erken die fout is a.g.v. ‘n komponent wat hulle gebruik wat hulle eers later agter gekom het kan faal.

Op die ou end besluit ek toe maar om eerder net ‘n grappie te vertel:
Die droogte in die Karoo het so erg geword dat daar niks meer oor is van Oom Sarel se plaas nie. Hy het al sy beeste laat slag, al sy skape verkoop. Die veld is so droog soos hy dit nog nooit in sy 65 jaar gesien het nie. Die plaaswerkers het verlede maand getrek om te gaan kyk of hulle nie kan werk kry in Zimbabwe nie, so sleg het dit gegaan. Oom Sarel sit een oggend op die stoep, verby moedeloos. Skielik kom daar ‘n helikopter oor gevlieg. Hy kyk die helikopter so, draai na Tant Sarie en sê vir haar : “Daar fokof die windpomp ook nou.”