Om te bedank is nogal baie soos om met iemand op te breek na ‘n verhouding (en ek het gedink ek is klaar met daardie emosies toe ek getrou het).

Teen die tyd wat jy die ander party inlig van jou besluit, het jy eintlik al jou besluit geneem.  Na jy hulle inlig probeer hulle egter baie hard om jou van besluit te laat verander.  Hulle speel op jou emosies van hoe erg dit gaan wees om jou te verloor.  Hulle belowe om te verander, jy moet net sê wat hulle kan verander om jou te hou.  Dit werk nogal amper.  Jy begin vergeet van die redes hoekom jy nou weer die besluit geneem het.  Jy begin dink dat dinge miskien beter kan wees as ‘n paar klein goedjies verander.  Jy begin twyfel, wonder of jy nie dalk oorreageer nie.  Jy begin wonder of jy beter af sal wees by iemand anders.

Maar dan dink jy aan die kere wat jy onsuksesvol dinge probeer verander het terwyl julle nog saam was.  Die frustrasie wat jou gedeeltelik tot jou besluit laat kom het.  Jy wonder hoekom hulle nie vroeër vir jou gewys het hoe baie hul jou waardeer nie, hoekom nou eers, na jy jou besluit geneem het.  Jy besef dat jy nie kwaad is nie, maar dat dit tog beter is vir jou om aan te beweeg.  Jy besef dat dinge nie regtig net vir jou gaan verander nie, mense verander nie sommer net so vinnig nie.

Miskien kruis julle paaie weer in die toekoms, en wie weet, dalk het beide dan genoeg verander om dan ‘n sukses daarvan te maak.

Die feit dat ek reeds ‘n nuwe aanbod aanvaar het maak dit makliker, ek het reeds my woord gegee.