Een van die grootste uitgawes op ‘n reis-avontuur kan jou vlugte wees. Ons hou daarvan om soveel as moontlik te ervaar en sien wanneer ons die kans kry om ‘n nuwe land te besoek, en as die land groot is beteken dit soms dat mens maar moet vlieg om die verskillende dele van die land te sien.

Een van die beste webblaaie wat ek al gesien het om goedkoop vlugte op te soek, is SkyScanner. SkyScanner soek net tussen die goedkoop (budget) lugdienste, so die vlugte is dus meestal binnelands, of na buurlande, maar dit is gewoonlik presies wat mens nodig het as jy ‘n alternatief vir die lang treinrit tussen Parys en Rome, of die bus tussen Bangkok en Surat Thani soek. Die uitleg en funksionaliteit van die webblad is uitstekend. Die Route Map maak dit baie maklik om vlugte in ‘n vreemde land te soek, waar mens gewoonlik nie weet wat presies die name van dorpe in ‘n streek is nie, maar waar jy darem ‘n algemene idee het na watter deel van die land jy wil vlieg. Hulle het selfs ‘n mobiele weergawe vir selfone, so as jy op vakansie is en skielik ‘n vlug moet soek, tik net http://mobile.skyscanner.net/en in op jou selfoon se webblaaier.

Nog ‘n uitstekende blad om vlugte op te soek is Travelstart, ‘n Suid-Afrikaanse blad wat eenvoudig en maklik is om te gebruik. Jy sê van waar tot waar jy wil vlieg (wêreldwyd), wanneer, en Travelstart soek vir jou die goedkoopste vlugte. Hulle soek op die goedkoop en tradisionele lugdienste se blaaie, so vir langafstandvlugte is hulle beter as Skyscanner, al wen SkyScanner op funksionaliteit.

Nog ‘n moeilike en tydrowende deel van jou eie koers inslaan is om goeie, goedkoop verblyf te kry. Reisgidse soos Lonely Planet en Rough Guide se plekke is gewoonlik nie meer so lekker teen die tyd wat jy daar aankom nie, miskien juis omdat dit gewild gemaak is deur die reisgidse. Gaan soek eerder op ‘n blad soos www.hotelclub.com, www.virtualtourist.com, www.tripadvisor.com of www.travelfish.org (uitstekend, maar net vir Suid-Oos-Asië) . Hierdie blaaie het die opinies van ander toeriste wat onlangs daar gebly het, wat baie meer waardevol en betroubaar is as enige reisgids.

As jy ‘n motor wil huur, is AutoEurope die plek om te gaan. Hulle kan vir jou ‘n motor by ‘n plek soos Avis kry vir goedkoper as wat Avis dit op hulle eie blad adverteer. Versekering is baie keer ingesluit, en hulle diens is uitstekend.

Baie van die pret van reis is juis om op plekkies af te kom wat nie in ‘n reisboek of op die internet bekend is nie. Om ‘n verlate strand te ontdek en heel dag daar te spandeer, of om ‘n klein gastehuis in ‘n klein dorpie raak te loop waar die mense so vriendelik is jy bly sommer nog ‘n dag. Aan die ander kant is dit ook lekker om nie te sukkel om verblyf te soek laat in die aand in ‘n besie toeristedorp in die besige tyd van die jaar nie. So my siening is moenie te veel moet beplan nie, dan beplan jy dalk die avontuur uit die reis uit, maar moet ook nie te min beplan en die avontuur uit die reis uit frustreer nie.