V: Wat is die verskil tussen die All Blacks en ‘n halwe Viagra?
A: ‘n Halwe Viagra kry jou ten minste ‘n semi.

Ek geniet dit as arrogansie beloon word met mislukking.  Want dis al hoe arrogante mense leer.  Ongelukkig is arrogente mense baie keer suksesvol, seker omdat die sukses arrogansie kweek.  Daarom is ek bly Australië het verloor, maar ek kry ek die All Blacks spelers self jammer.  Met sommige van hulle ondersteuners het ek egter geen simpatie nie.

Gister ry ek in die dorp en sien een van daardie motors wat my bloed laat kook.  Jy weet, een van daardie met die hele agterruit vol geskryf.  Gewoonlik is dit om die eienaar van die motor se alliansie met Nike, Manchester United, of die All Blacks uit te beeld.  Die twee spanne word bloot ondersteun omdat hulle goeie wen rekords het.  Dis asof mense so graag wil reg wees, dat hulle dan spanne ondersteun wat meeste ander mense om hulle nie ondersteun nie, en boonop nog gereeld die tuisspan klop ook.  Dan kan hulle windmakerig snedige aanmerkings oor die tuisspan maak.  Dis vir hulle lekker om ‘n argument te begin daaroor, en uitlokkend arrogant te wees daaroor.  Dit het niks met ras of die struggle of die samestelling van die Springbokspan te doen nie, net met ego.

Dis hoekom dit vir my so lekker was om by my oop venster uit te skree “Whaaaahaaaa!  Die All Blacks is CHOKERS!”.  Ek is lus om briefies te druk waarop staan “Jy kan nou maar jou k@k stop en die Bokke begin ondersteun, die All Blacks is windgat chokers wat verloor het!” en dit onder sulke motors se ruitveërs te sit as ek hulle geparkeer sien staan.  Hopelik sal daardie tipe mense nou in die volgende 2 weke tot hulle sinne kom en druipstert weer die Bokke begin ondersteun.

Almal is skielik bang vir die Argies, en dink ons gaan verloor.  Ek dink ons beste kans is om die wedstryd al in die eerste 15 minute te wen.  Ons moet meedoënloos aanval en die Pumas se hoop verpletter binne 20 minute.  Anders gaan hulle taktiek van hoë skoppe, verdedig  en opponente se bal stadig maak ons later begin affekteer, en dan kan dit naby wees (maar ons sal nog steeds wen).  Dis hoe hulle vir Frankryk gewen het, en dis hoe Engeland vir Autralië gewen het.