Soos Minter voel ek dat “crosstitution” die mees ondemokratiese ding is wat in ons land gebeur.  Maar ek is ook vas oortuig dat die meerderheid van Suid-Afrikaners (maak dit maar sommer almal in Afrika) nie weet wat demokrasie is nie.  Ek is nie ‘n kenner nie, maar ek weet ten minste wat dit nie is nie.  Demokrasie is nie maar net ‘n voorreg wat politici aan mense gee om elke 4 of 5 jaar te stem, net om hulle die res van die tyd stil te hou soos ‘n fopspeen vir ‘n baba nie.  Dit gee nie mag aan mense wat dit wil hê nie, dit gee mag aan die mense wat stem, wat dit nodig het.  Dit gee hulle die mag om politici tot verantwoording te roep as hulle nie die mense wat vir hulle gestem het DIEN nie.  Demokrasie sal nie werklik werk voordat almal wat stem nie weet wat demokrasie werklik is nie.  Eers dan sal mense nie aanhou stem vir mense wat hulle teleurstel en verraai nie.  Eers dan sal die ware mag by die mense wees.  Of dit ooit sal verander is ‘n goeie vraag, want ‘n situasie waar die politici die mag het is natuurlik vir hulle meer wenslik.  Hoekom sal hulle die mense leer wat demokrasie werklik is en sodoende die mag verloor?

Dit is tyd dat politici tot verantwoording geroep word; nie deur geweld of opstande nie, maar deur demokrasie.