Soms as ek in my motor ry tussen 18:00 en 19:00, op pad terug van die werk, of op pad na die gimnasium, soek ek so deur die stasies op die radio op soek na iets om te luister.  Meestal is Fresh op 5 FM is net nie snaaks nie, en KFM daai tyd van die dag net een te veel, so dan eindig ek maar op Radio 2000 se Moneyweb Power Hour.  Een of ander mark analiseerder gee dan redes hoekom die sekere aandele daardie dag op of af gegaan het.  Soms klink dit vir my of die rede nie regtig kan verband hou met die maatskappy waarvan hy praat nie, en soms sê die persoon sommer reguit hy kan nie aan ‘n werklike rede dink hoekom dit gebeur het nie.  Dan wonder ek weer hoekom ek nie die aandelemark verstaan nie, en hoekom dit vir my maar lyk soos ‘n klomp mense wat dobbel op die man op die straat se sentiment en onsekerhede.  My antwoord is gewoonlik dat ek dit maar net nie reg verstaan nie.

Tot vandag.  Na ek Ben Stein se verduideliking gelees het maak dit net vir my baie meer sin, en sien ek dat ek redelik naby aan reg is as ek dink die mark is ‘n casino in die korttermyn.  Dis hoekom die mense wat weet mens aanraai om aandele as ‘n langtermyn belegging te sien.  Koop ‘n paar blue chip aandele, en kyk eers weer oor 10 jaar na die finansiële bladsye in die koerant, wanneer jy wil verkoop.