Daar is min goed wat my so opwerk soos psuedo-wetenskap. Mense wat klaarblyklik wetenskaplike feite kwytraak, wat by nader ondersoek blyk om niks meer as groot woorde te wees wat niks beteken nie.

Gister lees ek die nuutste uitgawe van Golf Digest, en kom toe af op ‘n volblad “advertensie” vir Trion:z, ‘n magnetiese armband wat belowe om al jou skete weg te vat (die aanhalingstekens is omdat dit een van daardie “advertorials” is, ‘n advertensie wat lyk soos ‘n artikel, tot jy die fynskrif lees). Boonop verskyn David Leadbetter in die advertensie en word hy aangehaal oor hoe wonderlik die armband is. David Leadbetter, die man wat vir Ernie Els en Michelle Wie help om hulle stokke reg te swaai!

Net eers om die ware feite op die tafel te kry : magnetiese of “ioniserende” armbande het geen mediese voordeel nie. Moenie net my woord daarvoor vat nie, glo eerder die Mayo Clinic se studie, of die British Medical Journal. Uit die BMJ:

“Patients should be advised that magnet therapy has no proved benefits. If they insist on using a magnetic device they could be advised to buy the cheapest—this will at least alleviate the pain in their wallet.”

‘n Vinnige kykie na Trion:Z se webblad het my amper op die grond laat rol van lag. “Minus ions .. offer a natural good feeling” en “Research shows that excessive Positive Ion levels are associated with fatigue, lack of concentration, muscle and joint aches, and feeling of nausea.” Watter research? Klink soos iets wat die Scientologists sal kwytraak (don’t get me started)! Dis ook vir my interessant hoe meeste van hierdie psuedo-wetenskaplike produkte of tegnieke ‘n negatiewe konnektasie heg aan die moderne wêreld en tegnologie, en ‘n positiewe konnektasie heg aan iets wat kamstig “oud” en/of “oosters” is. Argumente wat op die oog af vir mense reg “voel”, maar glad nie deur feite gestaaf word nie.

Ek het so opgewerk geraak oor die blatante leuens wat ten duurste (tussen R250 en R300 per armbandjie!) aan mense verkoop word, dat ek amper nie kon slaap nie. Hoe durf hulle toegelaat word om hiemee weg te kom? My brief wat ek vanoggend aan die redakteur geskryf het sal waarskynlik nie geplaas word nie, want advertensierande is mos advertensierande.

Ek het ook begin wonder oor die legitimiteit van die hele gholftoerusting industrie. Is jou R3000 drywer regtig beter as my R500 een? Of moet jy maar net so glo omdat jy R3000 vir hom betaal het?