Mei 2007


Daar is min goed wat my so opwerk soos psuedo-wetenskap. Mense wat klaarblyklik wetenskaplike feite kwytraak, wat by nader ondersoek blyk om niks meer as groot woorde te wees wat niks beteken nie.

Gister lees ek die nuutste uitgawe van Golf Digest, en kom toe af op ‘n volblad “advertensie” vir Trion:z, ‘n magnetiese armband wat belowe om al jou skete weg te vat (die aanhalingstekens is omdat dit een van daardie “advertorials” is, ‘n advertensie wat lyk soos ‘n artikel, tot jy die fynskrif lees). Boonop verskyn David Leadbetter in die advertensie en word hy aangehaal oor hoe wonderlik die armband is. David Leadbetter, die man wat vir Ernie Els en Michelle Wie help om hulle stokke reg te swaai!

Net eers om die ware feite op die tafel te kry : magnetiese of “ioniserende” armbande het geen mediese voordeel nie. Moenie net my woord daarvoor vat nie, glo eerder die Mayo Clinic se studie, of die British Medical Journal. Uit die BMJ:

“Patients should be advised that magnet therapy has no proved benefits. If they insist on using a magnetic device they could be advised to buy the cheapest—this will at least alleviate the pain in their wallet.”

‘n Vinnige kykie na Trion:Z se webblad het my amper op die grond laat rol van lag. “Minus ions .. offer a natural good feeling” en “Research shows that excessive Positive Ion levels are associated with fatigue, lack of concentration, muscle and joint aches, and feeling of nausea.” Watter research? Klink soos iets wat die Scientologists sal kwytraak (don’t get me started)! Dis ook vir my interessant hoe meeste van hierdie psuedo-wetenskaplike produkte of tegnieke ‘n negatiewe konnektasie heg aan die moderne wêreld en tegnologie, en ‘n positiewe konnektasie heg aan iets wat kamstig “oud” en/of “oosters” is. Argumente wat op die oog af vir mense reg “voel”, maar glad nie deur feite gestaaf word nie.

Ek het so opgewerk geraak oor die blatante leuens wat ten duurste (tussen R250 en R300 per armbandjie!) aan mense verkoop word, dat ek amper nie kon slaap nie. Hoe durf hulle toegelaat word om hiemee weg te kom? My brief wat ek vanoggend aan die redakteur geskryf het sal waarskynlik nie geplaas word nie, want advertensierande is mos advertensierande.

Ek het ook begin wonder oor die legitimiteit van die hele gholftoerusting industrie. Is jou R3000 drywer regtig beter as my R500 een? Of moet jy maar net so glo omdat jy R3000 vir hom betaal het?

Advertisements


(dankie aan Al Jazeera van alle pleke vir die foto)

Die afgelope week of so is daar ‘n gesprek aan die gang oor Jaco van der Westhuyzen se t-hemp by die Super14 finall. David Mosley raak hier rondom ‘n paar snaaksighede kwyt in sy nuutste news24 rubriek:

From this we can only deduce that Allah is more in tune with the somnolent stylings of Test cricket while the Christian God prefers the more frenetic sporting pursuits of rugby and football. I’m not too sure what his stance is on motor sport.

Ek dink dis goed as mense die vrymoedigheid het om hulle geloof en inspirasie te deel met ander, maar hoe voel die span wat aan die verloorkant was as die wenner aanspraak maak op hulle god se ondersteuning?

Omdat ek ‘n enigste kind is, het die toergroep op ons gesinsvakansies gewoonlik net uit 3 mense bestaan : ek en my ouers. Ek was al op universiteit toe ons op ‘n vakansie Puerto Rico toe is. Ons arriveer die middag laat in die hoofstad San Juan, en na ‘n bietjie se verdwaal vind ons uit eindelik die gastehuis wat my pa sommer oor die internet bespreek het. Net sodat ons erens het om te slaap die eerste nag, en dan kan ons daar soek vir ‘n beter plek sodra ons eers ons bearings gekry het. My pa was nog altyd van mening dat vakansies nie in te veel detail vooraf beplan moet word nie, wat dit interessanter hou. Ons stap toe die aand op pad na ‘n restaurant verby ‘n hotel, en my ma stuur my toe vooruit om sommer by die toonbank te gaan vra hoeveel hulle kamers kos. Ek stap in en vra vir die man agter die toonbank hoeveel blyplek vir 3 mense sal kos. Ek sien hy kyk my so snaaks aan, en vra of al 3 in een kamer wil wees. Op daardie oomblik kom my ouers agter my ingestap in die ontvangsarea, en ek sien sommer in sy gesig hy verstaan nou. Hy kyk my toe so en sê “Sir, you do realize this is a gay hotel?”.

Die Peel Hotel in Melbourne kan nou wettiglik heteroseksuele mense verbied om daar te bly.

Hierdie winkel is genoeg rede om in Bellville te gaan bly. Dis iets ongeloofliks. Vars tuna steaks, genoeg seekos verskeidenheid om nooit weer rooivleis hoef te eet nie, enige vorm van rooivleis, kaas, kaas, kaas, neute, muesli, vars pasta, vrugtesap fonteine, sjokolade fonteine, vars gemaakte nougat, vars sushi, brode en ander gebak. En dan natuurlik nog groente en vrugte ook.  Beste van alles dis ‘n Fruit & Veg, so die pryse is selfs uitstekend. Belaglik, gaan kyk self, ek kwyl nou sommer.  Ons sal maar weekliks moet pendel Bellville toe.

7 bands gaan op 7 Julie 2007 ‘n rock konsert hou teen godsdiens.   Volgens news24 gaan Architects of Aggression (AOA), the Slashdogs, Ruhtz, Far Beyond Driven, Prevail and All Forlorn, en Wrust kitaar slaan en ten hemele sing (skreeu?) teen alle godsdienste op die “777” konsert.  Anton Alberts van AOA reken godsdiens was nodig lank terug toe mense nie die natuur verstaan het nie, maar nou is dit onnodig.  Ek neem aan hy impliseer daarmee ons verstaan nou alles.

Steve Hofmyer het besluit om ook ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi deur “amper” met hulle saam te stem.

Nou ja, daar gaan steel die Bulls toe die Super 14 by die Sharks in beseringstyd.  Ek het nie rerig om gegee wie wen nie, maar die beste span op die dag het nie gewen nie.

Die All Blacks oefengroep is aangewys, en daar is nie veel wat verras nie, behalwe dat Nieu-Zeelanders skielik na die Super 14 bang is vir die Bokke:

We all seem to be getting a little panicky about South Africa.

But let’s give our guys a chance to play before we start getting all worried about the Boks.

Dis goed om te hoor, maar ek verstaan nie rerig hoekom nie.  Die All Blacks is die laaste 2 seisoene so ver voor almal, dat ek nie kan dink dat hulle rede het tot paniek nie.  Maar dit lyk of die 4-jaarlikse wêreldbeker-jaar kopsiekte weer besig is om Nieu-Zeeland aan te val.  Hulle begin twyfel in hulself en swig op die ou end onder die druk.  Wat natuurlik goeie nuus is vir die ander spanne, veral die Bokke.

horlosie.jpg

Dis te maklik, so die wenner kry niks anders as roem en faam nie.

Volgende Blad »