Ek het die KKNK geniet en het ‘n oorwegend positiewe gevoel daarvandaan terug gebring.  Die meeste van die shows wat ons gaan kyk het was baie goed tot uitstekend (“Festen”, “Die Vals Snor” en “Die Uwe Pottie Potgieter” die bestes).  Die waarheid is egter dat dit meestal ‘n partytjie geword het waarna die meeste mense gaan om te gaan drink en eet en De la Rey of Leeuloop of daardie jaar se gewildste Afrikaanse liedje te gaan saamsing.  Die oop tente met gratis optredes en mense wat heel dag sit en drink het die hoof aantreklikheid van die fees geword.  Minder en minder mense gaan kyk verhoogstukke.  Daar is ook meer en meer mense wat gemaklik voel om t-hemde met ou SA vlae of slagspreuke soos “Praat Afrikaans of hou jou bek” te dra.

Die toppunt van alles wat my gepla het was waarskynlik Saterdag se gebeure by die Huisgenoot musiekplaas.  Toe ons so teen 17:00 daar opdaag vir Rock Legends (Koos Kombuis, Karen Zoid, Valiant Swart, Chris Chameleon) is daar nie plek vir ‘n muis nie.  NERENS is sitplek nie, die gras en pawiljoen is gepak.  Teleurgesteld gaan sit ons toe maar heel bo op die pawiljoen nadat ‘n paar mense opgeskuif het om vir ons plek te maak (waar mens skaars die verhoog kan sien) en kyk maar solank vir Bok van Blerk (van die De la Rey faam vir die wat nie weet nie).  Bok stel toe ook nie die massas teleur nie, en toe De la Rey gespeel word staan die skare soos een man op en sing saam.  Na die liedjie gebeur die verassende ding toe:  die meeste mense staan op en loop.  In die middel van Bok se volgende liedjie.  Met legendes soos Koos wat volgende gaan sing.  Die gevolg was dat ons toe lekker sitplekke baie naby aan die verhoog kon kry, maar dit was maar swaar om te sluk dat meer as die helfte van die mense R80 betaal het om 1 liedjie te kom luister.

Karen Zoid het later gedurende haar show min of meer die volgende gesê: Julle dra julle ou SA t-hemde en sê dis nie rasisties nie, dit staan nou vir iets anders.  Die swastika was ook eers ‘n oosterse simbool van vrede, maar niemand sal dit ooit weer as iets anders as die Nazis se teken sien nie.

My amper-swaer het opgemerk dat hy hoop nie die hele De la Rey ding is die begin van ‘n regse backlash nie.  Ek dink dit beteken vir verskillende mense verskillende goed (ek hou van die song, dis ‘n lekker tune), maar op die afgelope naweek se getuienis is ek bang hy is dalk reg.  ‘n Groep Afrikaners is besig om ‘n laer te trek en dieselfde foute te maak as wat die Afrikaners (en Amerikaners) in die verlede gemaak het.  Ek hoop net daardie groep is nie baie groot nie.

George Orwell se Notes on Nationalism is in 1945 geskryf, en bly steeds baie relevant.  Uit die laaste paragraaf:

As for the nationalistic loves and hatreds that I have spoken of, they are part of the make-up of most of us, whether we like it or not. Whether it is possible to get rid of them I do not know, but I do believe that it is possible to struggle against them, and that this is essentially a moral effort. It is a question first of all of discovering what one really is, what one’s own feelings really are, and then of making allowance for the inevitable bias. If you hate and fear Russia, if you are jealous of the wealth and power of America, if you despise Jews, if you have a sentiment of inferiority towards the British ruling class, you cannot get rid of those feelings simply by taking thought. But you can at least recognise that you have them, and prevent them from contaminating your mental processes. The emotional urges which are inescapable, and are perhaps even necessary to political action, should be able to exist side by side with an acceptance of reality. But this, I repeat, needs a moral effort, and contemporary English literature, so far as it is alive at all to the major issues of our time, shows how few of us are prepared to make it.

Die KKNK laat my dink dat min Afrikaners bereid is om daardie “moral effort” te maak.