Een van my gunsteling webblaaie is Hellkom. Dit het ontstaan as ‘n poging om Telkom se swak diens en belaglike pryse te probeer beveg. In meeste ander lande sou ‘n verbruikerswebblad soos Hellkom ‘n maatskappy tot blitsige verbetering gedwing het, maar in Suid-Afrika het Telkom ongelukkig die voordeel dat hulle tot onlangs beskerm is deur wetgewing wat gemaak het dat hulle nie kompetisie kon hê nie, en van daar die swak diens en hoë pryse. Ek is een van die grootste Telkom haters wat daar is, ek hou selfs minder van hulle as van Shane Warne, maar daar is ‘n kans dat dit dalk kan verander.

Verlede week dinsdag (27ste Feb) besluit ek om die groot stap te neem om ADSL te kry by die huis (Trevor se geskenk). Teen Vrydag (2 Maart) werk my ADSL reeds, ek het nie ‘n sent betaal vir die installasie/aansluiting nie, en ek het ‘n ADSL/Wi-Fi modem verniet gekry. Dit alles omdat ek bereid was om self die installasie te doen (dit behels niks meer as om die modem by die telefoonlyn in te prop, en ‘n filter boksie voor die foon in te prop nie). Lees meer op Telkom se webblad oor die self-installeer-gratis-modem aanbieding.

As jy reeds ADSL het, moet jy na WebAfrica se ADSL opsies gaan kyk. Hulle bied Prepaid ADSL. Dit werk so : jy koop soveel data as wat jy wil hê, en gebruik dit op jou tyd. Niks verval aan die einde van die maand nie, en die data kos net R70 vir ‘n gigabyte. By verre die mees koste effektiewe manier. Hulle diens is ook uitstekend. As jy besluit om dit wel te gebruik, tik asb my verwysingskode (BAR58) in wanneer jy dit bestel. Ek kry dan ‘n bietjie afslag op my bandwydte aankope.