As Suid-Afrikaners terugdink aan die mees pynvolle jaar in ons onlangse sportgeskiedenis, ons sogenaamde annus horribilis, moet 1999 sekerlik bo-aan die lys wees.  Dit was die jaar toe Bobby Skinstad se Stormers die Super 12 aan die brand gespeel het, net om in die semi-finaal op Nuweland te verloor.  Dit is ook die jaar van Makhaya Ntini se verkragtingsaak.  Die toppunt van pyn daardie jaar was egter die semi-finale in beide die krieket en rugby wêreldbekers.  Om so teleur gestel te word, en dit na Lance Klusener en Jannie de Beer se uitstekende vertonings ons soveel hoop gegee het, het menigte sielkundige seker genoeg geld laat maak vir ‘n groot strandhuis.

Maar genoeg van ons pyn, terug na 2007.   Australiërs (en die Rathbone gesin) het die laaste 10 of so jaar gewoond geraak aan wen, en aanhoudend wen.  Hulle het dit al begin aanvaar as hulle geboortereg, baie soos Bush en Cheney voel oor die Midde-Ooste se olie.  2007 is egter besig om ‘ n jaar te word wat Australië se ekwivalent van 1999 kan wees.  Australië se krieketspan het 6 van hulle laaste 7 wedstryde verloor, en hulle Super 14 spanne kon die afgelope naweek nie een wedstryd wen nie.  Die hoogste span op die punteleer is die Force in 7de plek, met die ander spanne in 8ste, 11de en 13de posisies.  Ek is die laaste een om Australië se kanse in die wêreldbekers nou al af te skryf, maar ons kan maar net hoop vir die beste (of in hulle geval, die slegste).