Ek voel goed oor die maande van Maart en April. Nie net omdat ek uitsien na die KKNK nie, maar selfs meer omdat die pajamakrieket wêreldbekertoernooi in daardie 2 maande afspeel. Hierdie jaar het ons geliefde Proteas hulle beste kans nog. Hier is hoekom ek so sê:

1. Sielkundige oorhand: Ons is finaal van die “chokers” naam ontslae. Nie net is ontslae daarvan nie, maar Australië het dit by ons oorgeneem danksy Engeland se oorwinning in die Commonwealth Bank reeks, en natuurlik daardie wonderlike 438 wedstryd op die Wanderers (aka “The Best One Day EVER™”). Dit is iets wat hard uitgebasuin moet word, al is dit net om Australië se aandag bietjie af te lei terwyl hulle kliphard probeer verduidelik hoekom hulle dit nie is nie.

2. Swakpunte wat nie so swak is nie: Ons grootste tekortkoming is dat ons nie ‘n kwaliteit draaibalbouler het nie. In die Wes-Indies kan ‘n goeie span wegkom daarmee. In die laaste 2 toere na die Windies het ons die reekse 5-2 (2001) en 5-0 (2005) gewen. Op beide toere was Justin Ontong die draaibalbouler, en hy het in totaal net 42 boulbeurte geboul in die 12 wedstryde (waarvan hy net in 8 gespeel het) teen ‘n gemiddeld van 60.66.

3. Vorm: Al die wedstryde in die wêreldbeker is dagwedstryde (geen middag-aand), wat die wen of verloor van die loot baie minder belangrik maak. Ons het 88% van ons dagwedstryde gewen die afgelope 12 maande, teenoor Australië se 71% (onthou die 438 wedstryd, dit was ‘n dagwedstryd). Nog meer onlangse vorm wys dat ons die laaste 6 maande 78% van ons eendagwedstryde gewen het, teenoor Australië se 74% (5/5 van ons dagwedstryde, Australië 1/1). As ons Woensdag (14/2) die laaste wedstryd teen Pakistan op die Wanderers wen, en Australië verloor teen New Zealand in hulle 3 wedstryd reeks wat van Vrydag af plaasvind, word ons die no 1 span in die ICC se ranglys. Net 2 jaar terug was ons 7de.

4. Sterkpunte wat baie sterk is: Met Jonty Rhodes as die nuwe veldwerkafrigter is ons weer die beste veldwerkspan in die wêreld. In hoë-druk wedstryde is veldwerk wat baie keer die verskil maak. As dit kom by die laaste 15 boulbeurtelopies moker is ons ook huidiglik die beste daaraan toe, veral nou dat Andrew Symonds se kanse om in die wêreldbeker te speel maar skraal lyk. Ons het die no 1 en no 3 boulers in ons span (Pollock & Ntini), ons het uit eindelik weer ‘n openingspaar kolwers wat ons beurt goed kan begin, en in Jacques Kallis en Ashwell Prince die ideale middelorde ankers vir die kere wat ons nie so goed begin nie.

5. Die geluksgodin skuld ons: Ons moet die ongelukkigste span in die geskiedenis van wêreldbeker krieket wees : In 1992 die reën in die semi-finaal teen Engeland; in 1996 Brian Lara wat een van sy onkeerbare beurte speel in die kwarteindrondte; in 1999, wel ons almal weet presies hoe groot die ongeluk ons daardie jaar gery het; en in 2003 ‘n kombinasie van reën, druk, te veel verwagting en ‘n kroekspul deur ander lande wat hulle wedstryde verbeur het (te min mense besef dat indien New Zealand nie hulle wedstryd teen Kenia verbeur het nie, ons eerder as Sri Lanka sou deurgegaan het na die volgende rondte).

Hierdie jaar voel vir my soos ons jaar. En as ons dit dan nie maak nie, mag die Windies dit maar wen.