Gedurende my sewe jaar as student op universiteit, en veral die eerste 5 jaar daarvan, was my watergat van keuse op Stellenbosch ‘n plek genaamd Finlay’s Wine Bar, of Die Fin vir kort. Dit was ook die watergat van keuse van meeste van my mede koshuis inwoners, wat waarskynlik daartoe bygedra het dat dit my gunsteling ook was.

Vir die wat nie Die Fin geken het nie is ‘n kort beskrywing dalk in orde. Verbeel jou iemand bou ‘n lang kroegtoonbank in die lengte van jou ouma se plaashuis se gang af, plaas drank aan die een kant en stoeltjies aan die ander kant. Aan die (baie nou) kant met die stoeltjies staan die die who’s who van Stellenbosch rugblyklub, saam met almal wat saam met hulle gesien wil word, en wuif (semi-onsuksesvol) om een van die 3 kroegmanne se aandag te kry bo die klipharde treffers wat pomp oor die luidsprekers. Sommige klante word egter wel flink gehelp, waarskynlik omdat hulle mede koshuisinwoners van die kroegmanne is.

Gestel nou jy en ‘n paar vriende geniet ‘n aandjie uit in hierdie gang met harde musiek, wanneer ‘n groep aantreklike dames langs julle kom stelling inneem. Jy knoop ‘n geselsie aan met een van hulle, wat min of meer so iets gaan:

Jy : “Hi, jy’s mos **** se kamermaat. Wat is jou naam nou weer?”
Sy : “Chrizelle”
Jy : “Estelle?”
Sy : “Nee, CHRIzelle”
Jy : “Sonel?”
Sy : “CHRIZELLE”
Jy : “O, ok.”
Jou vriend wat langs jou staan : “Wat’s haar naam nou weer?”
Jy : “Nee hel, ek weet nie. Maar ek dink sy wil iets bestel.”

Chrizelle is ‘n tipiese voorbeeld van ‘n Finlay’s naam. Een van daardie name wat ‘n meisie maar so hard as wat sy kan vir jou kan skree in Finlay’s, jy sal dit nooit reg gehoor kry nie. Dit gebeur omdat jou brein slegs sporadies klanke bo die pompende treffers as toevoer ontvang, en die res van die woorde moet raai. Vir die grootste dele van gesprekke is dit nie te moeilik nie (in elk geval nie die tipe gesprekke wat in Finlay’s gevoer is nie), maar wanneer ‘n meisie tevergeefs haar volksvreemde naam in jou oor probeer bulder werk daardie proses van herkenning net nie meer nie.

Finlay’s bestaan nie meer nie. Maar ek sien in my geestesoog hoe ‘n jong man oor 18 jaar ‘n geselsie aanknoop met Chrizette Cloete-Els in ‘n watergat in Tshwane, en die gesprek op die ou end eindig met:
“Wat is haar naam?”
“Nee hel, ek weet nie, maar sy’s glo ‘n sl”