Keith Ellison is die eerste moslem om tot die Amerikaanse kongres verkies te word. Dit opsig self sê seker al klaar baie, maar dis nie die punt wat ek nou wil maak nie. Wat skokkend is, is hoe hierdie gebeurtenis die skokkende vooroordele van sommige Amerikaners na vore bring.

Eers voer CNN ‘n onderhoud met Ellison, waarin daar basies vir hom gesê word dat alle moslems terroriste is, hoekom is hy nie een nie.

Toe skryf Dennis Prager, ‘n konserwatiewe radio omroeper en joernalis, ‘n artikel waarin hy probeer om ‘n kontroversie te skep deur te sê Ellison weier om sy inswerings-eed op die Bybel te neem, hy wil eerder die Koran gebruik. Nie net is die nie waar nie (daar word geen boek gebruik in die inswering nie), al was dit waar: SO WHAT!? Hoe kan dit moontlik kontroversieël wees? Volgens Prager : “the act undermines American civilization”. Huh?