Ek is mal daaroor om uit te vind of te leer hoe iets werk, of selfs hoekom dit ophou werk het. Do Kwang het ‘n interessante paar vrae oor die natuur gehad, wat my nogal bly maak. Ek hou daarvan as mense vrae vra. Dis ook die groot in ding om deesdae vrae te vra oor wat jy glo, wat politici nou weer aanvang en selfs oor wat tog nou rerig in die verlede gebeur het. Maar daar is te min mense wat net wonder oor die wêreld rondom hulle. Hoekom is die lug blou? Hoekom kyk my DSTV skottel net in een rigting, wentel satelliete dan nie om die aarde nie? Hoekom maak my mikrogolfoond vonke as ek die vurk saam met my bord kos daarin sit?

Vra die vrae, en probeer antwoorde kry. As mens weet hoe iets werk kan jy moontlik ‘n beter een bou. As jy weet hoe iemand dink kan jy hom dalk oortuig van jou standpunt, of oortuig raak van syne. As jy weet wat iemand glo kan jy dalk in vrede met hom saamleef.