Do Kwang se post oor straf en boosheid het my laat dink aan ‘n storie wat ons dominee (Breda Ludik) nou die dag vertel het in ‘n diens wat gegaan het oor vergifnis. In my eie woorde, en soos ek dit onthou het dit so iets gegaan:

By die WVK se publieke biegsessies in die jare 90 het daar ‘n polisieman getuig dat hy is as jong polisieman gestuur is om ‘n jong swart man te vermoor. Hy het toe so gemaak en het hy wil nou aan die ma sê hy is jammer en vra om vergifnis. Die hoof van die biegsessie het toe aan die vermoorde man se ma gevra of sy iets wil sê. Sy sê toe sy wil een ding van die polisieman hê:
Sy het nou al vir jare nie meer ‘n seun nie, en sy wil hê hy moet nou haar seun word. Hy moet vir haar kom kuier en bel om te hoor hoe dit gaan en alles doen wat ‘n seun vir sy ma sal doen. En sy sal hom dan aanneem as haar seun en hom liefhê as haar seun. Sy kan die wrok en haat bly dra oor haar vermoorde seun, maar as sy hom vergewe kry sy weer ‘n seun.