Aangesien ons die laaste paar weke 2 etes per dag by Grabouw se verskeidenheid kitskosplekke ge-eet het, voel ek dat ek nou genoeg inligting het om ‘n paar te resenseer. In volgorde van beste na swakste:

1. Thandi Farm Kitchen – 4 sterre
Nuwe padstal, ‘n kilometer of 2 na die Paul Cluver afdraai, aan die linkerkant (as mens van die Kaap af kom). Hulle kos is baie lekker, die spyskaart het ‘n redelike verskeidenheid, die diens is baie vriendelik en die pryse redelik. Wegneem-etes is goedkoper as die op die aansit spyskaart, en die porsies is redelik goed. Hulle is ook die naaste van al die plekke van ons werkplek af. Wat teen hulle tel is dat hulle nie in die aand oop is nie (hulle is ‘n padstal, mens verwag dit nie, maar ons moet nog steeds eet in die aand). Ek beveel hulle tamatiebredie sterk aan, en hoor die tuisgemaakte pasty met chips is ook ‘n wenner.

2. Pizza plek langs K.F.C. (Pizza Palace?) – 3 sterre
Die pizzas is nogal lekker, en smaak soos iets wat ‘n tannie tuis in haar kombuis gemaak het. Die spyskaart het ‘n paar wenners, soos een met anchovies, ham, sampioene en olywe. Oppas net vir die olywe, hulle het nog hulle pitte in. Behalwe vir K.F.C. die enigste ander plek wat oop is vir aandete wegneem. Gunstelinge : bostaande anchovies een, en die hoender-mayo een. (Hoekom het ons nie al meer hier ge-eet nie wonder ek nou?)

3. Grabouw K.F.C. – 2 1/2 sterre (kon 3 gewees het as ons nie al so baie daarvan ge-eet het nie)
Tot dusver het ons meer as die helfte van die aande hier kos gekoop, maar mens kan ook net soveel vetterige hoender eet voor jou hart gaan oppak (en jy verveeld raak van die spyskaart met 3 opsies). Die diens is redelik vriendelik, hulle is een van 2 plekke wat oop is in die aand, en hulle is die vinnigste opsie. Gunsteling ete : Sweet chilli twister, upsized.

4. Peregrine – 2 sterre
Vreeslik duur, baie toeriste, maar nog steeds die lekkerste mosbolletjie en springbokpies in die Wes-Kaap.