“10 seconds!”. “5,4,3,2,1,GO”. En daar hardloop ek en Wim die bosse in Jonkershoek in. Skielik besef ek dat ek seker op my kaart moet kyk waarheen om te hardloop, aangesien ek en Wim nie dieselfde roete doen nie, en ek hom in elk geval nie kan vertrou nie. Na al die jare kom die vaardighede wat ek as Presidentsverkenner geleer het uit eindelik handig te pas, en ek reken ek is darem min of meer op die regte pad. Tot ek aankom waar die eerste kontrolepunt moet wees, en niks kry nie. Daar vind ek ook vir Wim, wat rondhardloop soos ‘n dassie wat ‘n witkruisarend se skaduwee gesien het, op soek na dieselfde kontrolepunt. Ons besluit toe maar dat daardie punt gegaps is en hardloop die berg op na ons verskillende volgende punte. ‘n Uur, en 4,5 km later kom ek redelik moeg, en effe nat, by die finale kontrolepunt aan.

As jy nou wonder wat de ongeluk ek nou net beskryf het, dit was ‘n oriënteringsresies. Oriëntering is soos landloop en skattejag gemeng. Dis soos rally ry, maar net te voet. Jy kry ‘n kaart (soortgelyk aan die een onder) met ‘n roete wat jou die berge en bosse in vat, en dan probeer jy die roete so gou as moontlik aflê.

Die roetes wissel van kort (omtrent 2 km) tot lank (amper 5 km), en van maklik tot moeilik. Om seker te maak jy gaan sit nie net agter die naaste bos, en verskyn dan weer later by die eindpunt in ‘n rekord tyd nie (a la ), moet jy by kontrolepunte aandoen en jou kontrolekaart pons met die pons wat by daardie punt hang.
Die punte is meestal effens weggesteek (hoe ver weggesteek hang af van die moeilikheidsgraad van jou roete), en dis waar die skattejag ellement inkom. Die persoon wat al die punte in die vinnigste tyd kon besoek is die wenner; eenvoudig en groot pret. Die volgende wedren is in Grabouw op die 10de September. Wie gaan saam?

(Ek het ongelukkig nie my kamera saamgeneem nie, so die foto’s is m.b.v. google image search gekry)