Dean Jones

Hashim Amla

Dean Jones, ‘n voormalige Aussie toetskrieketspeler en tot gister ‘n kommentator vir die krieket in Sri Lanka, is gister op die eerste vlug terug Australië toe gesit nadat hy na Hashim Amla (SA se enigste moslem toetsspeler, vir die wat nie weet nie) as ‘n terroris verwys het. Hy het vreeslik erg om verskoning gevra, en vat sy pak soos ‘n (Aussie) man :

“It was never meant to be heard on-air. I am extremely sorry if I offended anyone. It was the last thing I wanted to do”

Hoewel dit lyk of Mnr Jones baie jammer is, pla die bewoording van daardie sin my bietjie. Dit laat my dink aan mense wat dink hulle is nie rasiste as hulle net nie VOOR swartmense rassistiese grappies maak nie. Of soos sommige mans wat dink ‘n gentleman vloek darem nie voor ‘n vrou nie, maar as daar nie ‘n vrou in die geselskap is nie kan hulle laat waai met die walglikste sêgoed. Of soos Mel wat teen Jode uitgevaar het. Wat hulle nie besef nie is dat hulle diep binne hulle maar tog die saadjie, of wortel, van vooroordeel het. En dis daar diep binne waar dit uitgeroei moet word, dit help nie om dit net onder die oppervlak weg te steek en nou en dan vir mense wat jy vetrou te wys nie. Want eendag gaan jy dit wys op ‘n plek of tyd waar jy nie moes nie, en dan mag jou verskoning nie wees dat hulle dit nie moes gehoor of gesien het nie.

Ek het amper meer respek (hoe min dit ook al mag wees) vir mense wat dan maar eerder die moed het om in alle situasies hulle ware kleure te wys, eerder as om ‘n tweegesig te wees.