Soos julle seker al egtergekom het, ek is mal oor travel. Ek is baie jaloers op mense soos rondloper en maksideem, ek wil ook vir maande aaneen. Een van die grootste redes hoekom ek so mal is daaroor is omdat mens soveel snaakse staaltjies het om na die tyd te vertel. Ek begin net al wonder of ander mense my staaltjies soveel geniet soos ek dit geniet om dit te vertel. Ek put genot daaruit omdat dit my toelaat om die situasie weer te herleef. Ek vind dat dit baie soos foto’s van jou vakansie is, mense wat nog nie daar was nie is nie eintlik baie geinteresseerd in jou vakansiefoto’s nie, maar die wat al daar was geniet dit wel, seker omdat dit hulle dan ‘n kans gee om hulle staaltjies van die plek te vertel. So hier is ‘n staaltjie vir almal wat al in Italië was:

April 2004: Ons het sopas by Venisië se lughawe geland, en die motor wat ons huur opgespoor. Eerste ding wat ek doen is om my GPS navigasiestelsel in te prop. Dis waarskynlik een van die top 5 goed wat mens kan aanskaf vir jou huwelik as jy in Europa bly (die ander 4 is iets wat ek dalk in ‘n ander post moet bespreek). In plaas daarvan dat jou wederhelfte ‘n vreemde kaart moet ontsyfer en sê waar om te draai (wat natuurlik tot reuse struwelinge lei), tik jy net vir TomTom jou destinasie in en ‘n vriendelik tannie met ‘n Britse aksent lei jou tot by die voordeur. Selfs wanneer jy nie na haar luister nie en effe verdwaal soek sy vir jou ‘n nuwe roete en bring jou weer op die regte pad. Soos julle kan aflei was ek baie afhanklik van die ding (veral in Italië), en het ek nie eens gesmile toe die ou by die Avis toonbank vir my so ‘n belaglike klein A4 kaart met die hele Italië op gee nie, want ons het mos TomTom om ons te help. Probleem is toe net dat die Fiat Punto se sigaretaansteker toe nie werk nie, wat beteken TomTom sit sonder krag. Ek haas my toe terug na die Avis toonbank, en verduidelik vir die man my GPS werk nie as daar nie krag is nie, en dat ek ‘n ander motor soek. Hy kyk my so, kyk na die belaglike klein A4 kaartjie en sê “But you’re young, and you have a map!”.

Die uiteinde was dat ons gelukkig ‘n ander Punto gekry het, en dat ons nou nog in Rome in ‘n sirkel sou gery het as ons nie krag gehad het vir die Britse tannie nie. As iemand ‘n huwelik het om te red in Europa, my GPS stelsel is te koop, met al die kaarte van Europa. Glo my, dis selfs meer werd as ‘n skottelgoedwasser.