Ek is huidiglik besig met ‘n klein alterkasietjie met my versekeringsmaatskappy Santam. Die kort daarvan is dat hulle besig is om my te skroef, en dat ek nou besluit het om die saak verder te neem. Die lang storie is:
In April van 2005 was ek betrokke in ‘n klein ongelukkie met my motor. Iemand anders het in my stilstaande motor vasgery van die kant af. Ek het die saak gaan aanmeld by die polisie en vir Santam gebel. Daar is vir my gesê dat ek die motor kan laat regmaak op hulle koste, en dat die koste verhaal sal word van die ander party en dat my premies nie sal verander nie. So gemaak en die motor is herstel en ek het nie betaal nie, wonderlik! Skip ‘n jaar: Verlede maand maak ek toe ‘n paar veranderinge aan my polis, en toe kom ek agter dat my premies die laaste jaar hoër is. Dadelik doen ek navraag en word ingelig dat my geen-eis bonus met 2 jaar verminder is tot die geld van die ander persoon verhaal is. Ek kan glo die afdeling wat die eise hanteer kontak om oor hoe die saak vorder. So gemaak word ek toe ingelig dat die vent wat in my vasgery het nie die geld wil opdok nie, en dat hulle nie die moeite gaan doen om die geld van hom af te kry nie, want dit gaan meer kos as wat hulle betaal het. Nou moet ek betaal daarvoor deur premies wat verhoog is. “Jammer meneer, maar dit maak nie besigheidsin om hom te vervolg nie”. Nou is my vraag, maak dit besigheidsin om my as kliënt te verloor, en die slegte naam wat hulle kry omdat ek hierdie storie vertel? My volgende stap is om die Kampvegter by Die Burger se hulp te probeer inroep, hopelik kan hulle iets vir my doen. Ek sal julle op hoogte hou.