Maeree skryf op haar blog hoe hartseer sy is om Swede te verlaat waar sy die afgelope 6 maande gebly het, maar dat sy besef ons het meer kanse om vir iemand anders iets te beteken hier in Suid-Afrika. Dis ‘n gevoel wat ons ook in die vreemde ervaar het. Mens word vreeslik patrioties, vertel vir die vreemdelinge daar hoe wonderlik S.A. is en as mens met mede S.A. expats praat is dit baie keer oor jou vorige of volgende vakansie in sonnige S.A. Wanneer jy in S.A. kom vir daardie vakansie voel mens sommer lief vir die mense, dis ons mense; mense-mense. Jy kry daardie gevoel dat jy ‘n Afrikaan is, dat ” die grond van Afrika die bloed is wat deur my are klop“. En dan voel jy dat jy daar in die vreemde is met ‘n doel: jy is daar om geld en kennis en ervaring bymekaar te maak om terug te bring en hier ‘n verskil te kom maak. Homecoming Revolution doen hul bes om daardie Proudly South African gevoel aan te wakker en sal jou help met alles as jy terugkom, belowe. Dan kom die tyd wat jy vir die finale keer op die aerie klim terug huis toe, sak en pak met ‘n container (of ten minste ‘n paar bokse) vol van jou Primark en Camden klere, jou Argos dvd speler en TV en miskien selfs ‘n paar meubels en ‘n kar reeds op pad terug op ‘n skip. Jy’s opgewonde oor die toekoms wat S.A. jou bied.

Hier aangekom koop jy vir jou ‘n huis in een van daardie oulike nuwe toskaanse uitbreidings, nie te ver se ry van jou nuwe werk in die stad nie, en naby genoeg aan jou gunsteling mall. Jy speel gholf elke 2de naweek, gaan Hermanus / Sodwana / Margate / Bosveld toe vir Paasnaweek, en geniet die lewe terug in Afrika. Dan, na ‘n ruk, begin jy weer wonder oor daaardie groot verskil wat jy wou kom maak het. Jy wonder hoe jy in die vreemde vriende van allerhande tale, gelowe en velkleure kon gehad het, maar hier in SA het jy nie een swart vriend nie. Jy wonder wanneer jy nou gaan begin om ‘n verskil te maak met jou geld en kennis wat jy uit die vreemde gebring het. Of is dit maar net ek?