Ek lees vanoggend van die Pirahã, ‘n stam in die Amazone wat ‘n baie interessante taal het. Hulle het nie woorde vir syfers nie, en daarom klaarblyklik geen konsep van wiskunde nie, nie eens basiese goed wat ek en jy nie eens as wiskunde sal sien nie. Dis vir my so ‘n vreemde konsep dat ek amper nie kan glo dit is waar nie. Dit voel vir my asof syfers so ‘n natuurlike deel van my bestaan is, dat dit amper ingebou is, iets waarmee mens gebore word. En dan leer mens verder hoe om dit te gebruik deur meer komplekse wiskunde aan te leer. Maar hierdie stam bewys die teenoorgestelde. Hulle het nie ‘n konsep van hoeveelheid nie. Ek wonder of dit hulle meer mededeelsaam en minder selfsugtig maak?