Gisteraand kyk ek toevallig Special Assignment op SABC3, en dit gaan toe oor hoe selfoontorings kamtig mense wat naby aan hulle bly se gesondheid aantas. Om aan te haal van die webblad af : “Special Assignment speaks to the myriad of people who suffer ill effects living close to cellular phone masts and base stations and finds out why health authorities won’t take them seriously.”

Wat in der waarheid gebeur het is dat hulle die arme verteenwoordiger van die Dept van Gesondheid aangeval het met aantuigings (wat glad nie deur feite bewys word nie) om hom te laat lyk soos ‘n idioot wat niks daaraan doen nie. Die arme man het herhaaldelik vir hulle probeer sê dat die World Health Organization se riglyne streng gevolg word in SA, en dat daar GEEN bewyse is dat die torings enige gesondheidsgevolge het nie. Special Assignment se retort was om met idiote, wat naby selfoontorings bly, te praat en hulle mening te kry; een van die idiote was ‘n vrou wat ‘n klein hangertjie dra wat glo die radiasie neutraliseer! Dit was op daardie stadium wat ek hardop begin lag het, en toe begin dink het aan ‘n uitstekende boek wat ek besig is om te lees:

The Psychology of Judgment and Decision Making deur Scott Plous

Hoofstuk 15 gaan oor hoe swak ons as mense is met korrelasies maak, en hoe ons maklik ‘n korrelasie sal sien wat nie bestaan nie. Special Assignment het ‘n korrelasie gemaak tussen selfoontorings en ‘n paar mense wat daar naby bly met swak gesondheid. Mens moet egter gaan kyk na hoeveel mense naby selfoontorings bly met goeie gesondheid, en jy moet gaan kyk na hoeveel mense ver van selfoontorings bly maar tog dieselfde gesondheidsprobleme het as die mense naby aan die torings, voor jy ‘n korrelasie kan maak. Dis juis wanneer jy dit doen (soos gedoen is in vele wetenskaplike studies) dat jy gaan agterkom dat daar nie ‘n korrelasie is nie, en dat gister se Special Assignment sommer net swak joernalistiek was. Volgende gaan hulle seker praat met ‘n klomp rednecks wat UFOs gesien het en die korrelasie maak dat die UFOs vir al hulle probleme te blameer is.

Doen jouself ‘n guns en lees hierdie boek, dit sal jou oë oopmaak en jou laat skrik oor hoe ons almal dieselfde denkfoute maak as ons besluite neem. Gelukkig kan mens daaruit leer en hopelik minder sulke denkfoute maak.