Maggies maar ons hou van moan. Let nou maar op volgende keer wat jy in ‘n gespreksituasie is en ‘n ongemaklike stilte ontstaan. Dit sal 90% van die kere onderbreuk word deur iemand wat begin kla oor die weer of die Springbokke of oor Jacob Zuma. Nou het ek ook al agtergekom dat kla nie naastenby soveel uitgerig kry as om ‘n oplossing voor te stel nie. Al is die oplossing onuitvoerbaar en belaglik kry dit mense ten minste aan die dink aan hoe om voorentoe te beweeg en ‘n werkbare oplossing te vind. So hier is dan my voorstel vir die taalkwessie by die Universiteit van Stellenbosch:

Dit is met opset dat ek nie voor my oplossing ‘n stelling of 2 maak om te wys aan watter kant van die debat ek staan nie. (iets soos “Ek is lief vir afrikaans en sal sterf daarvoor” of “Afrikaans is en sal altyd die taal van die onderdrukker bly” of wat ook al nie). Die rede is dat mense aan beide kante van die debat so sterk voel oor hulle standpunt dat hulle eenvoudig nie meer sal luister as iemand nie met hulle fundamentele punt saamstem nie. Niks wat daardie persoon kan sê kan tog verder werkbaar wees nie, en is tog defnitief ‘n rassistiese voorstel, of ‘n anti-Afrikaanse voorstel.

My voorstel is dat die onderrig struktuur van die universiteit in so verander word dat taal nie meer ‘n kwessie is nie. Neem die las van toetse merk, tutoriale aanbied en selfs lesings weg van dosente en stel assistente aan om hierdie werk te doen. Die konsep word al lank in goeie universiteite soos M.I.T. toegepas. Nagraadse studente word aangestel om al hierdie werk te doen (dink Demis op steroids). Die dosent stel nog steeds die inhoud van die kursus op, maar die aanbied van die lesings word deur die assistent gedoen. As die kursus in Afrikaans sowel as Engels aangebied moet word, word twee assistente aangestel (onthou, hulle is nagraadse studente wat baie minder as dosente hoef betaal te word, moontlik selfs deur ‘n beurs wat hulle vrystel van klasgeld) wie se verantwoordelikheid dit is om die kursus materiaal in watter taal ook al te vertaal en aan te bied. Die werklading op die dosente neem dus nie toe nie, en dalk het hulle dan selfs tyd om aan navorsing te spandeer, en die moontlikheid bestaan om kursusse in selfs ander tale ook aan te bied.

Dosente is nie veronderstel om naskoolse onderwysers te wees nie, eerder om akademici te wees wat kennis in hulle veld verbreed. Studente sal nog steeds kontak met die dosente hê in ‘n een-tot-een situasie in tutoriale, praktika of individuele afsprake. My mening is dat dit baie meer waardevol is vir ‘n student om ‘n kursus te volg wat deur ‘n goeie akademikus opgestel is en deur iemand anders aangebied word, as wat dit is om ‘n kursus te volg by iemand wat ‘n goeie onderwyser is maar ‘n swak akademikus.

Lees bietjie hier oor wat M.I.T. se teaching assistants, en research assistants alles moet doen.

As jy van my verskil of sommer net jou sê wil sê, los asseblief ‘n comment onderaan hierdie relaas.