Uncategorized


Op 20:51:55, 17 Sept 2009 SA tyd word die eerste konneksie met Sumbandilasst gemaak. Telemetry lyk goed. Groot sukses tot dusver. In die volgende 4 weke gaan die satelliet se stelsels stap vir stap aangeskakel en getoets word, tot daar aan die einde van die kommisionering ‘n werkende satelliet gaan wees.

Op Donderdag 17 Sept 2009 is Sumbandilasat suksesvol gelanseer. Satisfaksie!

Gister (16de Sept) is die lansering vir die 2de keer net voor die lansering uitgestel.  Hierdie keer a.g.v. ‘n keroseen filter wat foutief was met die volmaak van die vuurpyl se brandstof.

Update:  Lansering geskeduleer vir vandag, 17 Sept, om 17:55:07 SA tyd.

So daar word die lansering toe weer uitgestel.  Een van die voordele daarvan om in Baikonur te lanseer, is dat lanserings daar redelik op tyd gebeur.  Gister was egter een van daardie min kere wat ‘n lansering wel uitgestel is.  Daar was ‘n tegniese probleem met die vuurpyl, en die wind het glo te sterk gewaai.  So vandag (16 Sept), om 17:55:07 SA tyd, sal hulle weer probeer.  Duime vas dat dit vandag gebeur, anders is die lanseer venster eers verby, en niemand behalwe die Russe is seker wat dan gebeur nie.

Dit wil op hierdie stadium lyk of die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DST) die bal weereens laat val het, en daar nie ‘n lewendige uitsending van die lansering op SA TV gaan wees nie. Hoekom niemand by DST dit in die 3 jaar van vertragings gereël kon kry nie is ‘n ope vraag.  Hulle kon egter wel die tyd vind om te reël dat die minister, Me Naledi Pandor, die lansering saam met ‘n afvaardiging soustrein passasiers in Baikonur kan gaan kyk.

Dit is algemeen bekend, en word gedurig oor gekla deur die regering, dat daar nie genoeg wetenskaplikes en ingenieurs in Suid-Afrika opgelei word nie.  Deel van die probleem is dat leerders op skool nie belang stel in hierdie rigtings nie.  Hierdie was die ideale geleentheid om publisiteit te kry vir hierdie velde, om iets groots hiervan te maak en leerders se belangstelling in die veld te bevorder.

Die lansering word egter op hierdie webblad lewendig uitgesaai.  Hou ook die 15de September se uitgawe van Die Burger dop vir wat beloof om plakboek gehalte dekking van die lansering te wees.

GreensatGreensat

Greensat

Die satelliet industrie in Suid-Afrika het sy oorsprong in die Apartheidsregering se program om kernwapens te bou wat in 1971 begin het.  Tussen 1977 en 1989 het Suid-Afrika 6 kernwapens gebou, elkeen na bewering ongeveer so groot soos die bom wat op Hiroshima laat val is.  As ‘n uitvloeisel uit die kernwapen projek, het ‘n projek gevolg om ‘n balistiese missiel te bou, en daaruit ‘n satelliet projek.  ‘n Groot geheime installasie is gebou in die berge naby Grabouw, by Houwteq, waar die missiele (RSA reeks) en satelliet (Greensat) ontwikkel is.  Die kernwapen program is egter in 1989 gestaak, en daarna is die missiel en satelliet programme in 1993 gestaak onder Amrikaanse druk.  Die Houteq installasie behoort aan die Departement van Kommunikasie, en staan meestal leeg.  Dele darvan word egter steeds gebruik vir toetse en ontwikkeling.  SumbandilaSat se integrasie en toets fase is by Houwteq afgehandel.

Suid-Afrika bly steeds die enigste land in die wêreld wat vrywillig kern ontwapen het.  Die vraag kan steeds gevra word hoekom dit nodig was om die siviele missiel en satelliet programme stop te sit, en hoeveel dit ruimte tegnologie ontwikkeling in Suid-Afrika stopgesit het.  Was Amerika bang dat die nuwe regering die vuurpyle aan vyande van Amerika sou verkoop, of was hulle bang Suid-Afrika sou ‘n mededinger word in die kommersiële lansering besigheid?

In die vroeë 1990’s begin die Universiteit van Stellenbosch met die Sunsat program, ‘n akademiese satelliet, ontwerp en gebou deur studente en personeel by die universiteit.  Van die personeel betrokke by die Sunsat program was vroeër betrokke by die Greensat program, en so het die idee vir die akademiese satelliet begin.  Sunsat word in 1999 lanseer, en ‘n jaar of twee later stig ‘n groep van die Sunsat betrokkenes ‘n maatskappy genaamd Sun Space and Information Systems, of Sunspace.  Die Universitiet van Stellenbosch kry in 2005/2006 opdrag van die Departement van Wetenskap en Tegnologie om ‘n satelliet te bou, en kontrakteer vir Sunspace om hierdie satelliet te ontwerp en bou.  Die satelliet staan uit eindelik bekend as SumbandilaSat, komend van die Venda woord wat as  “lead the way” vertaal kan word, klaarblyklik om aan te toon dat dit die begin van ‘n nuwe Suid-Afrikaanse ruimteprogram is.

Sedert SumbandilaSat in 2006 voltooi is, het die regering egter nog geen ander satelliet programme van stapel gestuur nie, hoewel verskye media berigte die vorming van ‘n Suid-Afrikaanse ruimte-agentskap aangekondig het (iets wat al sedert 2006 sloer).  Onlangs het die NEF ‘n R50 miljoen belegging in Sunspace gemaak, wat hoeplik ‘n positiwe stap is om die burokratiese ratte ge-olie en aan die draai te kry.

Lees meer oor die Suif-Afrikaanse kernwapen program hier, en oor Greensat hier en hier.

Enige vrae is welkom.  So as jy wonder oor SumbandilaSat, vra, en ek sal kyk of ek dit kan antwoord.

V. Hoe bly ‘n satelliet in die lug?

A. ‘n Satelliet bly in sy wentelbaan as gevolg van gravitasie.  Die satelliet is eintlik besig om konstant na die Aarde te val.  Sien dit so:
As jy ‘n bal gooi, horisontaal met die Aarde se oppervlak, gaan die bal vorentoe, maar gravitasie veroorsaak ook dat die bal met ‘n boog na onder gaan en uit eindelik op die grond land.  Hoe harder jy die bal vorentoe gooi, hoe verder gaan die bal trek voor die die grond tref.  Gestel nou jy kan die bal so hard gooi dat die bal eers ‘n paar duisend kilometer verder land, so ver dat die Aarde se ronding al onder die bal verander het.  Gestel nou jy kan nog harder gooi, so hard dat die Aarde se ronding veroorsaak dat die bal nooit aan die grond raak nie.  So die bal val, maar hy val die Aarde konstant mis.  Dit is presies wat met ‘n satelliet gebeur.  Dit beweeg so vinnig vorentoe terwyl dit val, dat die die Aarde bly mis val.  Dit word ‘n wentelbaan genoem.

Illistrasie hier gekry.

V.Hoekom bly die DSTV satelliet dan net op een plek en draai nie om die Aarde nie?

A. Hoe hoër die wentelbaan, hoe langer neem die satelliet om een omwenteling te voltooi.  Op ‘n sekere hoogte gaan die satelliet net so lank neem om rondom die Aarde te wentel as wat die Aarde neem om self een rotasie te voltooi (‘n dag).  As die satelliet se wentelbaan rondom die ewenaar is, en op daardie hoogte is (ongeveer 36 000 km bo die Aarde), gaan die satelliet dus presies saam met die Aarde draai, en van ‘n punt op die Aarde lyk of dit stil staan in die lug.  In der waarheid is dit net besig om saam met daardie punt rondom die middelpunt van die Aarde te roteer.  So ‘n satelliet se wentelbaan word ‘n geostasionêre of geosinchrone wentelbaan genoem.  Geo beteken “Aarde”, en stasionêr of sinchroon beteken “staan stil ten opsigte van”.  Kommunikasie satelliete en weer satelliete is voorbeelde van tipise geostasionêre satelliete.  As die DSTV satelliet nie geostasioner was nie, en rondbeweeg het ten opsigte van ‘n punt op die Aarde, sou elkeen van ons se DSTV skottels moes rondbeweeg om die satelliet te volg, wat die hele stelsel onbruikbaar duur sou maak.

V.Hoekom bots satelliete nie, is daar nie baie daar bo nie?

A. Satelliet bots wel.  In Februarie 2009 het ‘n ou Russiese satelliet met ‘n Iridium kommunikasie satelliet gebots en in meer as 2500 stukke gebreek.  Daardie stukke is nou ruimterommel wat stadig terug wentel Aarde toe.  Dit word alles gemonitor deur die U.S. Space Survailance Network, en die operateurs van b.v. NASA se satelliete monitor dit en stuur hulle satelliete so dat dit die rommel vermy.  Hoewel daar duisende mensgemaakte objekte is wat rondom die Aarde wentel, moet mens ook in gedagte hou dat daar baie plek daar bo is, en die kanse dat 2 objekte bots redelik skraal is.

Dink so daaraan:  As die hele Aarde ‘n plat stuk grond was, met geen oseane nie, en ons het die hoeveelheid motors op Aarde eweredig versprei oor die oppervlak, en almal het mooi teen ‘n konstante spoed in ‘n reguit lyn gery.  Die motors sou so ver van mekaar wees dat die moontlikheid van ‘n botsing redelik skraal sou wees.  Nou en dan sou hulle paaie miskien kruis, maar vir ‘n botsing sal beide motors by die kruispunt moet wees op dieselfde tyd.  Vir satelliete se wentelbane is daar nog ‘n derde dimensie wat bykom, naamlik hoogte. In die prent hier onder (van Nasa se uitstekende artikel oor wentelbane)  stel elke punt ‘n satelliet in ‘n lae Aarde wentelbaan voor.  Dit wys dat daar wel baie satelliete daar bo is, maar op die skaal van die prent is die punte heelwat groter as wat die satelliet self is.  As dit op skaal geteken sou word, sou die swart punte onsigbaar klein gewees het.

V. Hoe hoog gaan SumbandilaSat wentel?

A. SumbandilaSat gaan in ‘n lae Aarde wentelbaan (Low Earth Orbit, LEO) wees, wat ongeveer 500km bo die Aarde gaan wees.  Dit is ‘n nuttige wentelbaan vir satelliete wat foto’s neem om verskeie redes (lees meer in die Nasa artikel).  Nog ‘n interessantheid oor SumbandialaSat se wentelbaan is dat dit rondom die pole gaan wentel.  Terwyl die satelliet rondom die Aarde wentel, draai die Aarde, en skuif die wentelbaan dus met elke omwenteling ten opsigte van die Aarde.  So kan die satelliet oor tyd elke punt op Aarde fotografeer.

sun-synchronous

Illustrasie van hier af.

Verdere inligting

Lees meer oor wentelbane in hierdie uitstekende artikel van Nasa.

Enige ander vrae of opmerkings?

Uit eindelik, na bykans 3 jaar se uitstel, wag, verskonings, (leuens), mense se loopbane, lewens en gesinne wat omver gewerp is en politici burokrasie (die oorsaak van die voorafgaande), word SumbandilaSat op Dinsdag 15 September 2009, om 17:55 SA tyd (GMT+2) gelanseer.  Popular Mechanics het in Nov 2006 ‘n artikel gehad oor die oorspronklike lansering wat in Desember 2006 sou plaasvind.

sumbi-medium

Met die oploop na die lansering gaan daar dus ‘n paar satelliet verwante inskrywings hier verskyn.

Ons skop sommer af met ‘n paar algemene vrae:

V. Wat doen die satelliet?
A. Die hoof loonvrag (payload) is ‘n kamera.  Dit gaan gebruik word om lugfoto’s te neem.

V. Waarvoor word die foto’s gebruik?
A. Lugfoto’s is baie nuttig en word vir verskeie toepassings aangewend.  Voorbeelde van velde waar dit gebruik word is landbou, bosbou, geografie, geologie.  Lees meer op wikipedia.

V. Hoe groot is die satelliet?
A. Ongeveer die hoogte en breedte van ‘n wasmasjien, maar die helfte so diep.

V. Hoe word dit gelanseer?
A. Dit sou oorspronklik deur ‘n omgeboude interkontinentale ballistiese vuurpyl (Shtil tipe) uit ‘n duikboot naby Murmansk, Rusland gelanseer geword het.  Na ‘n hele ruk se politieke toutrekkery en vertragings is dit toe verander na ‘n lansering met ‘n Soyuz vuurpyl uit Baykonur in Kazakstan.  SumbandilaSat is een van 5 satelliete op die vuurpyl, met die grootste een (die hoof loonvrag) ‘n Russiese weersatelliet.

Enige vrae is welkom, ek sal my bes probeer om hulle te antwoord.  More dan meer oor die wentelbane van satelliete en vrae soos “Hoekom bots die satelliete nie met mekaar nie?”.

Slacktivism
Volgens Urban Dictionary : The act of participating in obviously pointless activities as an expedient alternative to actually expending effort to fix a problem.

Ek hou van die woord.  Ek gaan dit vertaal met slaptivisme.  Afrikaners veral is mal oor slaptivisme.  Ons sal petisies teken en vir koerante skryf en rondom braaivleisvure kla tot die bier en brandewyn op is.  Maar om iets te doen aan ‘n probleem is darem te veel gevra.  Slaptivisme laat jou voel asof jy besig is om iets te doen aan die probleem, maar eintlik rig jy niks uit nie.  Hoekom is slaptivisme so gewild?  Omdat dit makliker is as om iets daadwerklik aan ‘n probleem te doen,  en goedkoper.

As jy saam stem en slaptivisme wil stop, sluit aan by my faceboek groep “Hou op om ‘n slaptivis te wees!”.  Nee wag, hou eerder net self op om ‘n slaptivis te wees, en volgende keer as jy rondom die braaivleisvuur staan met jou 2de bier, en iemand begin weer kla oor misdaad in ons land, vra hom of haar bietjie wat hulle al gedoen het om die probleem te probeer oplos.  Wees ook sommer reg met ‘n antwoord op die vraag oor wat mens nou eintlik self kan doen daaraan.  Vra ‘n bietjie rond, gaan lê ‘n besoek af by jou polisiestasie en vra hoe jy kan help om die probleem op te los.

Volgende Blad »