Dit is onmoontlik om deesdae oor die weg te kom sonder ‘n bankrekening van een of ander aard. Jou salaris moet daarin betaal word, jou versekering moet maandeliks met ‘n debietorder betaal word, en dit is darem tog bietjie beter as om dit net onder jou matras weg te steek, want dit groei darem bietjie met die rente. Of is dit werklik so? Hoekom het ons almal tjekrekeninge, net omdat ons ouers nog altyd gehad het? Wie gebruik nog tjeks?
Die afgelope jaar of wat word daar baie in die media geskryf oor bankkoste, en die regverdigheid daarvan. Een van die kwessies is juis dat die verskillende banke se kostestrukture net genoeg verskil dat dit byna onmoontlik is om die kostes te vergelyk. Daar is egter nou ‘n webblad wat wil help: www.thinkmoney.co.za. Jy vertel vir hulle hoe jy jou geld spandeer en spaar, en hulle gee dan vir jou ‘n vergelyking van hoeveel die verskillende banke se opsies jou sal kos. Ek was nogal verbaas om te sien hoe erg die meeste banke ‘n mens werklik uitbuit. Ek gebruik nie ‘n tjekboek nie, en doen al my sake elektronies (internet- of selfoonbank), so ek behoort een van die goedkoopste kliënte te wees wat ‘n bank voor kan hoop. Mens sou dink ‘n kliënt soos ek sou beloon word met rente en lae koste, maar die waarheid is dat daar slegs 4 bankrekeninge is wat my nie met ‘n netto uitgawe laat aan die einde van die jaar nie. Behalwe vir daardie 4 rekeninge is dit dus beter om my geld onder die bed te hou, daar sal meer oor wees aan die einde van die jaar. Die 4 rekenige wat wel vir my met ‘n wins laat, is as volg (die bedrae is jaarliks bereken):
1. Pick’nPay GoBanking Go rekening: R643.80 se kostes, R1600 se rente = R956.20 wins
2. Capitec Global One Gold : R683.40 se kotes, R1600 se rente = R916.60 wins
3. Absa Moneybuilder : R796.20 se kostes, R1390 se rente = R593.80 wins
4. Standard Bank Puresave : R879.60 se kostes, R1180 se rente = R300.40 wins
Captitec, Moneybuilder en Puresave het nie petrolkaarte beskikbaar nie, Capitec het nie internetbankdiens nie, en ABSA Moneybuilder kan nie rekening betalings of oordragte maak nie. GoBanking het ‘n petrolkaart, gratis sekondêre kaart, internet- en selfoonbankdiens, ‘n Mastercard debietkaart (kan by baie meer handelaars as ‘n Maestro kaart gebruik word), jy kry afslag by Pick’nPay en dit verdien meer rente as “spaar” rekeninge by banke soos ABSA. Ek is nou al meer as ‘n jaar lank by GoBanking, en so gelukkig dat ek besig is om my rekeninge by ABSA te sluit (wat ek oop gehou het in geval GoBanking nie goed genoeg was nie en ek wou terug gaan ABSA toe). Meeste mense bly by hulle bank al is daar ander goedkoper opsie, “want dis te veel moeite om te skuif”. GoBanking sal selfs jou debietorders vir jou skuif, jy vul net ‘n paar vorms in met die details.
Die rekening wat die swakste vergelyk is FNB se silwer, goud of platinum tjekrekeninge. ‘n Totale koste van R4772 per jaar (R4572 vir platinum) , en GEEN rente nie. Watter geldige rede kan daar moontlik wees vir hierdie tipe uitbuiting? Hulle sal waarskynlik wollerige woorde soos “waarde wat ons toevoeg” en “persoonlike diens” gebruik om te verduidelik. Maar vir amper R5000 per jaar sal hulle ten minste weekliks my kar moet was voor daar “waarde toegevoeg word”.
Ek is moeg vir banke wat my uitbuit, en ek sal my geld laat praat en nie vir hulle besigheid gee nie.
Julie 22, 2007 at 22:44
Dis goed en wel as jy geld het, maar wat van as jy met ‘n huisverband sit en in daardie kontrak word bepaal jy sal ‘n tjekrekening hê by hulle waarin jou salaris betaal word?
Julie 23, 2007 at 8:23
Die belangrikste ding van ‘n verband kry is die onderhandeling van die kontrak. Moenie sommer net instem vir alles wat hulle sê nie. As jy eers getekn het is dit baie moeiliker om te onderhandel. Ek het bank toe gegaan en gevra of hulle rerig wil hê ek moet my verband skuif net omdat hulle my wil dwing om ‘n belaglike tjekrekening ook te hê. Hulle het toe saam gestem dat hulle dan eerder ten minste my verband sal hou. Dis baie makliker om te onderhandel met banke as wat mens dink. Hulle sou graag wil hê jy moet dink dit is moeilik. En as hulle nie wil onderhandel nie, skuif na iemand met ‘n redelike verband. Jy sal waarskynlik meer spaar oor die 15 jaar of wat wat oor is op jou verband as wat die skuif jou gaan kos.
Julie 23, 2007 at 8:24
O ja, ek moet seker noem, ek is nie ‘n geregistreerde finansiële adviseur nie. My raad moet geensins in ‘n professionele lig opgeneem word nie, dit is bloot my opinie.
Julie 23, 2007 at 8:30
Hmm, ek’s ‘n platinum FNB kliënt en ek betaal GEEN bankkoste nie, buiten vir die simpel 50c wat ek moet betaal as ek iemand via SMS wil laat weet van ‘n oorbetaling en natuurlik SASWICH kostes as ek by ‘n OTM anders as FNB geld trek.
Julie 23, 2007 at 8:35
Meer spesifiek is die bostaande vir FNB Platinum FNB, Fee Manager 6 Transaction Option 1. En ‘n korreksie, die Platinum is darem R200 goedkoper as die goud en silwer. Ek het dit bo verander.
Julie 23, 2007 at 14:18
Pienkes, ek lees hier en my mond hang oop. Nie dat jy dit se nie, maar dat jy dit weet. Hoe weet jy al hierdie goed
Julie 23, 2007 at 14:23
Trapper, die man met die Pienk Zuit weet alles!
Meer ernstig, dat ek wat weet? Die info kry ek alles van die webblad af. Die webblad self het ek raak geloop op news24 of iol se webblad dink ek. Die antwoord is waarskynlik dat ek te veel tyd op die web spandeer, gekombineer met ‘n geheue vir en fasinasie met (meestal) nuttelose inligting.
Julie 24, 2007 at 4:12
Hoe is Go Banking se internet fasiliteite. Is dit maklik om op te stel, en is dit secure? Ek is gedurig aan die sukkel met Absa vanuit die verte.
Julie 24, 2007 at 10:30
Pienkes, jy het gemaak dat ek gisteraand my bankstate gaan uithaal het en bietjie sommetjies gemaak het. Jy is ‘n geseende onder alle manne!
Julie 24, 2007 at 10:52
Trappe, dankie, altyd lekker om geseën te word.
Julie 24, 2007 at 13:29
idiwidi, GoBanking is maar eintlik ‘n Nedbank rekening. Die internet bankblad is Nedbank sin, met GoBanking logos i.p.v. Nedbank sin. So ja, ids secure. Ek kan nie onthou wat die proses was om te registreer daarvoor nie, so ek kan nie sê hoe maklik dit gaan wees van daar af nie.
Julie 25, 2007 at 0:20
Kommentaar no.3 laat my dink jy het te veel tyd in Engeland spandeer.
Julie 25, 2007 at 18:30
PZ dis joernalistiek soos die wat koerante kort!
Julie 25, 2007 at 23:06
Willem, don’t tempt me. Ek wou al lankal ‘n career move maak.