Julie 2007


Ek soek voorstelle vir ‘n lekker spanbou tipe uitstappie. Die kriteria is as volg:

- Tussen 60 en 80 mense moet kan deelneem
- Moet in die Boland of Kaapse Skiereiland area wees
- Verkieslik ‘n daguitstappie (oorslaap maak dit moeilik en duurder)
- Die groep bestaan uit ingenieur-tipes, ouderdomme tussen 25 en 60

Die huidige wen voorstel is ‘n uitstappie na die planetarium en akwarium in die Kaap.  Enige ander voorstelle wat iets meer kompeterend behels (paintball is effe te geweldadig & aktief vir die teikengroep, maar iets soortgelyks)?

Vir die van ons wat altyd ons opinie oral wil laat geld, en dus baie blog, of sommer net baie kommentaar lewer op ander mense se webblaaie, meestal in Afrikaans, maar nooit seker is hoe om “fluister” te spel nie, hier is die oplossing (dit help ongelukkig nie dat ek korter sinne skryf nie):

1. Laai Firefox 2 hier af (2.0.0.5 is huidiglik die nuutste). Firefox 2 het ‘n ingeboude speltoetser wat enige iets wat jy op ‘n webblad tik outomaties toets. Daar is ook verskeie ander redes hoekom dit beter is as Internet Explorer, maar dis nie nou ter sake nie. Glo my maar net, laai dit af en gebruik dit.

2. Laai die Afrikaanse woordeboek vir Firefox hier af.

3. Laai die Dictionary Switcher addon vir Firefox hier af. Nou kan jy sien watter taal die speltoetser gebruik, en dit verander met ‘n regs-klik, regs onder in die Firefox venster.

firefox.jpg

Voilà, geen meer verskonings vir woorde soos “vluister”, “vliek” of “eroediet” nie.

NS : Die ander opsie is om vir Johannes “Lopende Woordeboek” de Villiers te kry om al jou inskrywings te proeflees, maar dis baie meer tydrowend.

Dit is onmoontlik om deesdae oor die weg te kom sonder ‘n bankrekening van een of ander aard. Jou salaris moet daarin betaal word, jou versekering moet maandeliks met ‘n debietorder betaal word, en dit is darem tog bietjie beter as om dit net onder jou matras weg te steek, want dit groei darem bietjie met die rente. Of is dit werklik so? Hoekom het ons almal tjekrekeninge, net omdat ons ouers nog altyd gehad het? Wie gebruik nog tjeks?

Die afgelope jaar of wat word daar baie in die media geskryf oor bankkoste, en die regverdigheid daarvan. Een van die kwessies is juis dat die verskillende banke se kostestrukture net genoeg verskil dat dit byna onmoontlik is om die kostes te vergelyk. Daar is egter nou ‘n webblad wat wil help: www.thinkmoney.co.za. Jy vertel vir hulle hoe jy jou geld spandeer en spaar, en hulle gee dan vir jou ‘n vergelyking van hoeveel die verskillende banke se opsies jou sal kos. Ek was nogal verbaas om te sien hoe erg die meeste banke ‘n mens werklik uitbuit. Ek gebruik nie ‘n tjekboek nie, en doen al my sake elektronies (internet- of selfoonbank), so ek behoort een van die goedkoopste kliënte te wees wat ‘n bank voor kan hoop. Mens sou dink ‘n kliënt soos ek sou beloon word met rente en lae koste, maar die waarheid is dat daar slegs 4 bankrekeninge is wat my nie met ‘n netto uitgawe laat aan die einde van die jaar nie. Behalwe vir daardie 4 rekeninge is dit dus beter om my geld onder die bed te hou, daar sal meer oor wees aan die einde van die jaar. Die 4 rekenige wat wel vir my met ‘n wins laat, is as volg (die bedrae is jaarliks bereken):

1. Pick’nPay GoBanking Go rekening: R643.80 se kostes, R1600 se rente = R956.20 wins

2. Capitec Global One Gold : R683.40 se kotes, R1600 se rente = R916.60 wins

3. Absa Moneybuilder : R796.20 se kostes, R1390 se rente = R593.80 wins

4. Standard Bank Puresave : R879.60 se kostes, R1180 se rente = R300.40 wins

Captitec, Moneybuilder en Puresave het nie petrolkaarte beskikbaar nie, Capitec het nie internetbankdiens nie, en ABSA Moneybuilder kan nie rekening betalings of oordragte maak nie. GoBanking het ‘n petrolkaart, gratis sekondêre kaart, internet- en selfoonbankdiens, ‘n Mastercard debietkaart (kan by baie meer handelaars as ‘n Maestro kaart gebruik word), jy kry afslag by Pick’nPay en dit verdien meer rente as “spaar” rekeninge by banke soos ABSA. Ek is nou al meer as ‘n jaar lank by GoBanking, en so gelukkig dat ek besig is om my rekeninge by ABSA te sluit (wat ek oop gehou het in geval GoBanking nie goed genoeg was nie en ek wou terug gaan ABSA toe). Meeste mense bly by hulle bank al is daar ander goedkoper opsie, “want dis te veel moeite om te skuif”. GoBanking sal selfs jou debietorders vir jou skuif, jy vul net ‘n paar vorms in met die details.

Die rekening wat die swakste vergelyk is FNB se silwer, goud of platinum tjekrekeninge. ‘n Totale koste van R4772 per jaar (R4572 vir platinum) , en GEEN rente nie. Watter geldige rede kan daar moontlik wees vir hierdie tipe uitbuiting? Hulle sal waarskynlik wollerige woorde soos “waarde wat ons toevoeg” en “persoonlike diens” gebruik om te verduidelik. Maar vir amper R5000 per jaar sal hulle ten minste weekliks my kar moet was voor daar “waarde toegevoeg word”.

Ek is moeg vir banke wat my uitbuit, en ek sal my geld laat praat en nie vir hulle besigheid gee nie.

As ‘n mens die onsinnige praatjies van kreasioniste kon glo, was daar voor Noag se vloed ‘n paar mense wat ‘n dinosaurus steak oor die kole gegooi het. As mens Bertus se waansinnige praatjies kon glo, eet sy susterskind nou nog dinosaurus tjoppies. Ek het al krokodil en selfs rendier verorber, maar nog nooit dinosaurus nie. Wat is die vreemdste dier wat jy al in jou bord gehad het?

108_0850.jpg

Rendier steak

Dis asof daar ‘n effense ongemaklike stilte heers in die deel van die blogosfeer wat ek gereeld besoek.  Soos by ‘n braai by jou vrou se skoolvriende wat jy nie eintlik ken nie, en jy het nou al rugby en krieket gesels met die manne langs die vuur.  Al wat dan nog oorbly is die weer.  Troos jouself, dit kon erger gewees het.  Julle kon soos die Britte sommer met die weer begin het.

Om jou uit te help om volgende keer die kenner op die gebied van die weer te wees, wil ek ‘n kombinasie van 2 webwerwe voorstel: My Weather en Wind Guru.  My Weather gee ongelooflike visuele voorspellings vir die volgende 5 dae (egter net vir S.A.).  Jy kan sien hoe gaan die wolke, reën, temperatuur, aanvoelbare temperatuur, lugdruk, wind, ens. lyk vir elke 6 uur in die nabye toekoms.

cloud_synoptic_pretty_20070718-36.jpg

precip_synoptic_pretty_20070718-30.jpg

WindGuru gee ‘n numeriese voorspelling van selfs nog meer veranderlikes, en hulle voorspelling dek elke 3 uur in die volgende week.  Beide is die mees akkurate voorspellings wat ek nog teegekom het.  Hulle gee vir jou genoeg inligting dat jy self die afleidings kan maak of dit gaan reën of nie.  Baie nuttig as jy moet besluit watter middag hierdie week die beste gaan wees vir ‘n rondte gholf (min wind, geen reën), of watter dag om te gaan duik (min wind, min swell), of sommer net om slim te klink langs die braaivleisvuur.

112_1231.jpg

Mosselbaai is nie net die dorp in S.A. met die mees gematigde klimaat nie (tweede naas Hawaii in die wêreld), maar ook die veiligste dorp in S.A.  Volgens Louis Harris van die Mosselbaaise Toerismedepartement is dit veral te danke aan die polisie wat hulle werk so goed doen.  Ek reken die dominees doen ook hulle werk nogal goed op so ‘n dorp.

“As jy hierdie epos aanstuur gaan Bill Gates vir jou R5 gee vir elke adres waarna jy dit stuur, en op die koop toe ‘n nier skenk vir ‘n siek dogtertjie wat dit nodig het.”

“As jy hierdie epos aanstuur sal Nelson Mandela R5 gee om die Springbok embleem te red, en jy sal ‘n gratis selfoon van Virgin Mobile af kry.”

“Stuur hierdie epos aan om die aaklige fliek wat laster teen Budha, gemaak deur ‘n groep kommunistiese gay mans, te stop. As ons Budhiste maar net so sterk oor ons geloof gevoel het soos die moslems!”

Wanneer jy een van hierdie kettingbriewe kry, is daar ‘n paar aksies om uit te kies:

- “Reply toe all”, verduidelik mooi dat dit ‘n hoax is, met ‘n link na snopes.com toe om dit te staaf. (Dankie tog vir snopes)
- Reply, en skryf “UNSUBSCRIBE” in jou epos.
- Skryf ‘n sarkastiese epos terug oor hoe dom ‘n mens moet wees om die tipe snert te glo, en dit dan nog aan te stuur ook (“Ek probeer maar, dalk werk dit!” is selfs nie ‘n geldige rede om dit aan te stuur nie)
- Ignoreer dit.

Die laaste opsie sal geensins help dat jy minder sulke gemors ontvang nie, maar dit gaan jou ook nie vriende kos nie. Enige ander voorstelle?

Ek verstaan nie altyd ekonomiese sake nie, maar dan kan ek gelukkig vir Amper Swaer vra om vir my te verduidelik.  Die afgelope tyd is daar egter ‘n kwessie wat knaend in die nuus genoem word, wat ek nie eens met sy hulp kan ‘n antwoord voor kan kry nie: die eksodus van Suid-Afrikaanse rugbyspelers na Frankryk en die V.K.  ‘n Paar voorbeelde:

Perpignan het van die einde van hierdie jaar af die dienste van Percy Montgomery, Philip Burger, Gerie Britz en Bobby Skinstad.

Toulon, ‘n klub wat in die Franse 2de liga speel (m.a.w. hulle is die Franse ekwivalent van S.W.D. of O.P.), het vir Victor Matfield, George Gregan, Andrew Mehrtens en Tana Umaga (Umaga in ‘n bestuursposisie).

Dit laat my wonder oor ‘n paar goed.

1. Hoe gewild is rugby in die V.K. en Frankryk rerig? (My indrukke was dat dit nie naastenby so gewild is soos in S.A. nie)

2. Hoeveel mense kyk rugby, en spandeer geld op rugby daar, teenoor S.A.? (Met ‘n groter bevolking kan dit dalk die antwoord wees hoe hulle meer geld het om te spandeer met ‘n kleiner persentasie van ondersteuners).

3. Hoeveel professionele spelers is daar teenoor hier? (Hoe klein moet die koek gesny word?)

4. Hoe vergelyk salarisse van die gemiddelde speler daar teenoor hier?

5. Hoe vergelyk salarisse van die top spelers (internasionale spelers) teenoor hier? (m.a.w. word die top spelers baie meer betaal as die gemiddeld, om hulle so te lok?)

6. Waar kry die Europese klubs hulle geld?  Borge, kaartjieverkope?  En is S.A.?  Hoe kan besighede daar meer geld borg vir minder blootstelling as hier?

7. Is die rugby ekonomie werklik soveel groter daar dat ‘n tweede liga span ‘n speler soos Matfield beter kan betaal as die Super 14 en Curriebeker kampieone?

8. Is die antwoord nie dalk dat daar wel net soveel geld (of meer) in S.A. rugby is, maar dit raak weg erens langs die pad, voor dit by die spelers kan uitkom nie?

9. Is dit werklik die geld wat die spelers lok, of word hulle in effek weg gedwing uit S.A. rugby uit?

10. Hoekom is daar so min goeie sport joernaliste in S.A. wat hierdie tipe vrae vra?  Hoekom skryf almal net dieselfde snert soos “Die Kwota stelsel is ‘n euwel” en “Die ANC wil die Springbok vermoor”, of “My vakansie in Australië op Supersport se rekening: Die donuts is nogal lekker.” ?

Enige iemand wat antwoorde het?

kasteel.jpg

Watter nudiste strand is hier naby geleë?

Volgende Blad »