Hierdie bloeddorstige jong man is my swaer, en die gedrog daar voor hom was ‘n wilde kameel in Australië. Die kamele is rondom die draai van die 19de eeu ingevoer, ongeveer 20 000 van hulle. Nou is daar meer as 200 000 wat wild rondhardloop (of meer as 200 000 minus 3 na die afgelope naweek) en amok maak.
Eerskomende naweek is weer Williston se jaarlikse gholf- en jagnaweek. Vrydag word springbokke gejag, Saterdag word voëltjies gejag, en tussenin word stories vertel, gekuier en ge-eet tot die punt van peulnael. Met my bloeddorstige swaer in Australië het die res van ons dalk ‘n kans om ‘n prys in te palm.
In geval jy nie van die kontroversie gehoor het nie, die PSL (Suid-Afirka se professionele sokker-liga) het die TV regte vir die volgende 5 jaar aan Supersport verkoop. En is die SAUK boos hieroor! Die CEO van die SAUK, Dali Mpofu, se eerste taktiek was om sy wange op te blaas en sy bors uit te stoot en te probeer boelie. “Onregverdig”, “ons sal ‘n hofsaak maak en wen”, “sokker behoort aan die mense”, “dis tradisioneel dat die SAUK sokker uitsaai”, selfs dreigemente van die regering af. Waar was hierdie protes toe die SAUK opgehou het om rugby en krieket uit te saai? Of is dit omdat rugby en krieket as wit sporte gesien word? Hoe moet hierdie sporte transformeer as die meerderheid van mense dit nie te siene kry nie?
Soos ‘n kleuter wat nie sy sin kry nie, het die SAUK eers die “ons speel nie meer saam nie” taktiek probeer, en bloot enige aanbod om te onderhandel met die PSL, en later met Supersport, geïgnoreer. ETV gebruik toe die kans en beklink ‘n kontrak met Supersport om die eerste toernooi van die seisoen, die Telkom Charity Cup, uit te saai. Oeps, skielik is die SAUK se protes dat arm mense nie meer gaan kan sokker kyk nie by die venster uit. Mpofu reken toe klaarblyklik dis tyd om taktiek te verander, “we demand” werk duidelik nie. Nou smeek hulle basies om ingesluit te word. Verder kom dit nou aan die lig dat terwyl die SAUK geweier het om meer as R67 miljoen ‘n jaar vir SA sokker te betaal, hulle ‘n kontrak gesluit het om R93 miljoen ‘n jaar te betaal vir een laeprofiel Engelse sokkerwedstryd per week. Duidelik is hulle nie rerig so patrioties soos wat hulle voorgee om te wees as dit gerieflik is nie.
Die SAUK se sport afdeling het die laaste paar jaar massiewe besluitnemingsfoute gemaak (ignoreer sporte met groot kykersgetalle soos rugby, krieket en formule 1, want dis tog net witmense wat dit kyk). Hulle pogings om die besluite te probeer regmaak, soos om miljoene in ‘n doodgebore idee soos A1 GP te pomp net om met Formule 1 te probeer kompeteer, grens aan lagwekkend. Dis asof die besluitnemers glad nie in ag neem dat hulle besigheidsmodel daarop staat maak dat hulle kykers moet lok nie.
Ek hoop Supersport verkoop die regte om wedstryde gratis te wys alles aan ETV, en sluit die SAUK heeltemal uit. Dis al hoe arrogante mense soos Mpofu en sy trawante, wat reken hulle kan doen wat hulle wil en altyd na hulle boeties indie regering toe hardloop as hulle opmors, sal leer. Dis al hoe sport in SA regtig aan almal gaan behoort. Dankie tog vir die vryemarkstelsel.
Organizational anti-patterns is tipiese (onproduktiewe of foutiewe) bestuurstyle wat in maatskappye voorkom. As ek mooi dink aan die 3 mense wat ek weet my blog lees, kry meeste van julle nie veel te doen hiermee nie (count yourself lucky), omdat jy nie in ‘n werk is waar jy vreeslik bestuur word nie (jy bestuur self of jy werk nie). As jy wel iets herken, vertel meer.
Waar lê die lyn tussen jou kind se selfbeeld opbou, en die kind se ego vergroot? msnbc het ‘n interessante artikel wat die vraag vra of kinders te veel aanmoediging kry, of te min.
“many parents seemed very invested in their children always being the star, always having a great time, always feeling successful”
Is dit rerig ‘n ouer se werk om die kind so veel as moontlik te laat goed voel? Word daardie kind nie dalk gestuur na ‘n groot teleurstelling wanneer hy/sy eendag agterkom die lewe is nie noodwendig regverdig nie, en sukses is nie gewaarborg nie? Doen daardie ouer nie dalk die kind eerder ‘n onguns aan nie? Verhoed dit nie kinders om te leer om oukei te wees met hulself soos hulle is nie? Maak dit nie die kind ‘n selfgesentreerde egomaniak wat net dink hy/sy is wonderlik nie?
Homer Simpson het eendag vir Bart die volgende advies gegee:
“No matter how good you are at something, there’s always about a million people better than you at it”.
Te pessimisties, of steek daar waarheid in wat mens vroeg genoeg al moet leer?
Hondehotelhoes (ek hoop dis wat “kennel cough” in Afrikaans is) is nie snaaks nie. As jy nie weet dat dit is wat fout is met jou hond nie, kan jy dalk dink sy het ‘n hoenderbeen wat vassit in haar keel. Die ‘n onaardse gehoes, wat klink of sy wil opgooi. Eintlik is dit maar net ‘n bietjie van ‘n keelseer, dis net dat honde nie eintlik gewoond is aan keelseer nie, en dan ‘n vreeslike keel opsit as hulle dit kry. Hoe dan gemaak om haar te help? Voer haar ‘n Strepsil natuurlik. Maar jy moet sorg dat sy dit nie insluk nie.
HA! Nou daar is ‘n opskrif wat honderde ekstra besoekers hiernatoe gaan bring, waarskynlik sonder om te kry waarvoor hulle werklik op soek was. Hulle hoef egter nie teleur gestel te word nie, want hulle mag dalk moontlik net vir die eerste keer van die Springbok Nude Girls hoor. Of al van hulle gehoor het, maar nog nooit ‘n absolute opdrag gekry het om bekend te raak met hulle musiek nie. As hulle dan per ongeluk met hierdie ompad wel vir Gang Gang of Illuminate te luister kry, mag hulle dalk net bly wees dat hulle het verkeerd geclick. So hier is dit:
If you’re looking for Nude Girls at their best, go here and here. Listen to Gang Gang and Illuminate. Listen to it again and again. A while into the future you’ll catch yourself bouncing up and down on your chair, listening to Arno asking “Are you sure ’bout that?”
As meeste van ons moet eerlik wees, is die blogosfeer bloot ‘n plek wat vermydingsgedrag (beste woord wat ek aan kan dink vir “procrastination”) maklik maak. Ons besoek ander mense se blogs, en skryf enige nonsens op ons eie blogs, net om (soms) sinvolle, maar vervelige, werk uit te stel. My skoonma het ‘n baie goeie teorie oor hoe om vermydingsgedrag te oorkom, en dit word baie goed saamgevat deur hierdie blog. Moenie dink nie, doen net.