April 2007


Ek weet niks van sport af nie. Duidelik niks! Want wat gister in St Lucia gebeur het, het ek glad nie verwag of in my wildste drome sien gebeur nie. “Brave Cricket” is nou hopelik eens en vir altyd dood. Hopelik kan iemand dit eerder vervang met “Smart Cricket”, want dit is wat ons die afgelope 8 jaar of meer nie kon regkry nie.

In die Karibiese Eilande is ‘n botteltjie hot sauce op elke tafel te bespeur. Soso Brown Sauce in Engeland, of Ketchup in die V.S.A. Hot sauce is presies wat die naam sê, ‘n warm sous, met ‘n tikkie Karibiese tropiese smaak.

My resep:

15 Tabasco chilli’s, of so 8 Habanero’s (verkieslik vars uit die tuin)
1 wortel
3 teelepels knoffel
1/2 koppie asyn
1/4 koppie lemmetjiesap
1/2 – 1 mango, opgesny in blokkies
3/4 koppie water
olyfolie

img_3549.jpg

img_3576.jpg


img_35772.jpg

Maal die chilli’s (gebruik soveel van jou gunsteling soort as wat jy wil, afhangende van hoe warm jy dit wil hê), knoffel en wortel fyn in ‘n voedselverwerker en braai so 3 minute in die olyfolie.

Net ‘n waarskuwing as jy met chilli’s werk: Moenie jou oë of ander sensitiewe vryf terwyl of na jy die chilli’s hanteer het nie. As jy met Habanero’s werk, oorweeg dit om handskoene te dra. Wees ook versigtig vir die chilli-dampe, veral as jy die voedselverwerker oopmaak.

img_3583.jpg

Gooi die gebraaide bestandele saam met die res in ‘n versapper en versap tot ‘n sous. Dan alles weer terug in die pan, en prut vir so 5-10 minute. Indien die sous te dik is, verdun met meer water terwyl dit prut. Laat koel effens af en gooi dan oor in skoon glas bottels (dit sal nog dikker word soos dit afkoel). Bere in die yskas, dit behoort maande te hou (geen kiem sal die moed hê om dit aan te val nie).

Lewer so 500 ml sous wat so 8 uit 10 kry vir warm as jy Tabasco chilli’s gebruik (habanero’s sal dit nader aan 10 maak). Gebruik op pizza’s, Meksikaanse kos, kerries, seekos, Cajun crawfish en selfs in jou bier (as jy so voel).

img_3584.jpg

Hot sauce regs, links is Minelli se Thai Soet Chilli sous (waarvan sy hopelik in die toekoms sal vertel) .

It takes a big man to cry, but it takes a bigger man to laugh at that man.

Before you criticize someone, you should walk a mile in their shoes. That way when you criticize them, you are a mile away from them, and you have their shoes.

Quiz Night is eers uitgestel, oor die langnaweek en so aan.  Sal laat weet wanneer dit weer aan is, hopelik volgende week (3 Mei).  Lees solank julle ou Kennise, en lees Die Burger om saam te kan gesels.

Ek het voor die aanvang van die wêreldbeker ‘n paar voorspellings gemaak.  Tyd om te gaan kyk hoe reg (of verkeerd) ek was:

Groepswedstryde:

Windies wen teen Pakistan   -Reg

SA wen teen Aus                     -Verkeerd

Sri Lanka wen teen Indië      -Reg

Engeland wen teen NZ          -Verkeerd

Totaal : 2/4 = 50%

Semi-finaliste:

SA, Aus, Sri Lanka,  NZ (met Engeland as die buiteperd om vir SL of NZ te vervang)  – 4/4 = 100%

Finaal:

SA vs Sri Lanka

IKR Krieketwêreldbeker kampioen vir 2007:

Suid-Afrika

Totaal tot dusver : 6/8 = 75%.  Hopelik is dit na hierdie week 8/10.

Iemand genaamd johannes_11 skryf op Salige Rus dat hy redelik seker is die wederkoms gaan in 2011 wees.  Toe wonder ek sommer hoe dit mens se lewe verander om te weet die wêreld gaan nog net 4 jaar bestaan.  Meer spesifiek, hoe sal dit my lewe verander?  Sal ek ophou werk en die laaste 4 jaar op ‘n klein eiland naby Madagaskar spandeer?  Sal ek ‘n sendeling word wat die Afrikanersvolk probeer oortuig dat hulle op die verkeerde pad is?  Sal ons ons planne om aan te bou aan ons huis laat vaar?   Daar is soveel vrae:
Gaan Robert Mugabe nog president van Zim wees teen die wederkoms?  Wie gaan die laaste sokker wêreldbeker wen in 2010?   Gaan die wederkoms voor of na die krieket wêreldbeker in 2011 wees? Indien voor, MOET ons hierdie een wen, dis ons laaste kans…

My resep:

- 12 Kersietamaties, lekker ryp ( die skil moet al lyk soos jou ouma se voorarm)
- 1 of 2 Chorizo worsies, opgesny (vir die vegetariërs, mens kry glo vegetariese chorizo’s)
- Halwe teelepel gekapte knoffel
- 1 Chili, gekap. Die soort chili hang af van hoe warm jy dit wil hê. Ek verkies Tabasco of Habanero chili’s, vars uit ons tuin.
- Genoeg olyfolie om die om die pan se bodem amper toe te maak.
- Vars basiliekruid en pietersilie uit die tuin.
- Olyfpasta (My gunsteling Fruit & Veg produk). Heel olywe kan seker ook gebruik word, ontpit net eers.
- Spaghetti

17-04-07_1946.jpg
Braai die knoffel, tamaties, chorizo en chili in die pan met olyfolie, op medium hitte.
17-04-07_1947.jpg

Kook die spaghetti in water met ‘n bietjie sout en olyfolie. Ek hou daarvan om dit nie kleiner te breek nie, maar as jy ‘n pasta-beginner is wat sukkel om lang spaghetti te eet, breek dit eers kleiner.

17-04-07_1949.jpg

As die tamatie en chorizo lekker gebraai is (so 10 minute), voeg omtrent 2 eetlepels se olyfpasta by en roer deur.

17-04-07_2000.jpg

Kap die vars basiliekruid en pietersilie op en voeg dit ook by. Gee alles kans om op lae hitte bietjie smake te meng.

17-04-07_2002.jpg

Gooi die spaghetti se water af, en voeg by die ander bestandele in die pan. Gooi nog ‘n bietjie (3 of 4 eetlepels) olyfolie oor alles en meng deur.

17-04-07_2008.jpg

Garneer met pietersilie. Voilà – Pienk Zuit se Spahetti con chorizo.

Bedien 2, waarvan ten minste 1 baie honger is.

Terwyl ons nou oor drome praat, ‘n vinnige opsomming van Kevin Pietersen se grootste nagmerrie, wat vandag waar geword het:

(foto gekry by die BBC)

Kevin Pietersen c Smith b Nel 3

Soos Michael Atherton tereg opgemerk het, die enigste manier wat dit erger kon gewees het is as dit c Nel b Smith was.

Ek kan nie meer tel hoeveel keer ek geworstel het met ‘n probleem en ek die antwoord later in ‘n droom gesien het nie. Die mees onlangse voorbeeld was verlede week toe ons terug kom van vakansie af en my motor, wat in die garage gestaan het vir ‘n week, nie wil vat nie. Nadat ek die battery amper pap gedraai het, bietjie onder die enjinkap gewerskaf het en maar oorgegee het en begin planne maak het vir hoe ek die motor tot by ‘n werktuigkundige gaan moet sleep, word ek skielik die volgende oggend wakker met die antwoord in my kop : ek het die mobiliseerder aangesit en vergeet daarvan (dit behels ‘n weggesteekte skakelaar wat mens nooit sal kry as jy nie daarvan weet nie, en maklik van vergeet as jy lanklaas met die motor gery het). Natuurlik het ek dom gevoel omdat ek dit vergeet het, maar hoekom het ek die antwoord gedroom, en nie vroeër daaraan gedink nie?

idiwidi (kan iemand tog asb net uitfigure wat haar naam beteken!?) skryf oor ‘n droom wat sy gehad het. Dit het my laat dink aan teorië wat ek op universiteit gehad het oor hoe om jou drome te beheer na aanleiding van een of ander studie waarvan ek gehoor het. MY soektog na die studie lei my toe na Dream Views, ‘n webblad wat jou alles vertel van hoe om helder drome te hê, en jou leer om jou drome te beheer. Ek dink ek gaan hulle tutoriale volg en kyk of ek nie ‘n antwoord kan droom vir die misdaadprobleem nie, of ten minste net wat fout is met ons krieketspan.

Ek weet ek is bietjie agter die tyd en het ons eindlik klaar gesels oor die KKNK. Maar hierdie was tog te kostelik! Nou al vir ‘n klompie jare probeer elkeen op die KKNK ‘n geldjie maak met hulle weergawe van “kuns” en so het dit ook pos gevat onder die “locals” van Oudtshoorn. Op elke hoek en draai kry jy iemand met ‘n blokfluit (die spesifieke ou was nogal nie sleg nie) tot ‘n blikkitaar. Onder die kinders is dit baie gewild om so groepie van 3 tot 5 te maak en dan liedjies te sing of daai ding te doen waar jy doodstil staan tot iemand geld ingooi. Die gehalte van die sang is dan nie iets om oor huis toe te skryf nie en ek dink nie daar is voor die tyd oudisies gehou nie. Ons dog toe die 2 verdien ‘n paar sente met hulle baie baie  oorspronklike poster… (dit sê ” Ons bly stil”)

kknk.jpg

tot ons 10 meter verder stap en nog ‘n paar kinders sien met dieselfde poster, en tien meter verder…!

Volgende Blad »