February 2007


As Suid-Afrikaners terugdink aan die mees pynvolle jaar in ons onlangse sportgeskiedenis, ons sogenaamde annus horribilis, moet 1999 sekerlik bo-aan die lys wees.  Dit was die jaar toe Bobby Skinstad se Stormers die Super 12 aan die brand gespeel het, net om in die semi-finaal op Nuweland te verloor.  Dit is ook die jaar van Makhaya Ntini se verkragtingsaak.  Die toppunt van pyn daardie jaar was egter die semi-finale in beide die krieket en rugby wêreldbekers.  Om so teleur gestel te word, en dit na Lance Klusener en Jannie de Beer se uitstekende vertonings ons soveel hoop gegee het, het menigte sielkundige seker genoeg geld laat maak vir ‘n groot strandhuis.

Maar genoeg van ons pyn, terug na 2007.   Australiërs (en die Rathbone gesin) het die laaste 10 of so jaar gewoond geraak aan wen, en aanhoudend wen.  Hulle het dit al begin aanvaar as hulle geboortereg, baie soos Bush en Cheney voel oor die Midde-Ooste se olie.  2007 is egter besig om ‘ n jaar te word wat Australië se ekwivalent van 1999 kan wees.  Australië se krieketspan het 6 van hulle laaste 7 wedstryde verloor, en hulle Super 14 spanne kon die afgelope naweek nie een wedstryd wen nie.  Die hoogste span op die punteleer is die Force in 7de plek, met die ander spanne in 8ste, 11de en 13de posisies.  Ek is die laaste een om Australië se kanse in die wêreldbekers nou al af te skryf, maar ons kan maar net hoop vir die beste (of in hulle geval, die slegste).

Bewyse dat my vriende my goed ken en weet waarin ek belang stel:

Trevor Manuel het besluit om in hierdie jaar se begroting vir my DSTV te gee.  Of dis in elk geval wat ek beplan om met die ekstra geldjies te doen.  Nou kan ek danksy Trevor my produktiwiteit drasties verlaag rondom die krieket wêreldbeker.

Bereken self hoeveel ekstra jy per maand gaan oorhou.  Wat gaan jy daarmee doen?

Ek kan net nie ophou proes van die lag sedert ek die webblad van die The Fair Education Foundation, Inc. gesien het nie.  Hierdie mense laat Kent Hovind en sy creationist makkers soos baie billike mense klink.  Hulle vaar nie net uit teen Darwin en sy mal evolusie teorie nie, nee wat, dis te maklik.  Hulle vat basies elke bekende wetenskaplike van Copernicus en Newton reg deur tot by Einstein aan.  Almal van hulle is ketters en kom uit die hel.  Die Aarde staan stil, terwyl die res van die heelal rondom die Aarde draai.  O ja, en gravitasie bestaan nie.  Ek gaan nie eens begin verduidelik waar al die gate in hulle teorië is nie, enige iemand wat meer as ‘n D vir skeinat in matriek gekry het sal dit kan doen.

Nou ja, as dit waar is het ons probleme, want dan gaan ons satelliete nooit werk nie.   Ek wonder hoe werk die seisoene dan, en hoekom ek vandag my 30ste omwenteling om die Son vier?

1. Is Bloggers joernaliste?

2. Is 5FM se Hi5 @ 5 treffersparade werklik so demokraties as wat hulle voorgee, of is dit bloot ‘n skelmspul van Vodacom en 5FM om geld te maak?

Ek is van plan om in die nabye toekoms ondersoek in te stel en antwoorde te kry op beide hierdie vrae:

1. Ek gaan om media akkreditasie aansoek doen vir die KKNK en kyk of ek dit toegestaan word. Saam met die vorm wat mens moet instuur, moet ‘n brief van jou redakteur ook gaan, en as jou publikasie ‘n webblad is, ‘n skakel na jou vorige werk. As redakteur van hierdie blog sal ek hulle maklik van beide kan voorsien.

2. Ek gaan ‘n epos veldtog van stapel stuur om een of ander Afrikaanse liedjie ingestem te kry op die Hi5@5. Eers sal ek egter ‘n bietjie navorsing moet doen om uit te vind hoeveel stemme ‘n liedjie tipies nodig het om daarop te kom. Dan gaan ek julle hulp nodig hê.

10 dinge wat ek hoop gaan waar wees teen Sondagaand:

1. S.A. is no 1 op die ICC ODI tabel . Go NZ!

2. Al 5 S.A. Super 14 spane het gewen.

3. Ons nuwe tuinman het Saterdag opgedaag en die tuin lyk baie beter.

4. Ons het lekker potjiekos en basaarpoeding by ons kerk se basaar ge-eet.

5. Ons honde het uit eindelik geleer om nie by die hek uit te storm sodra hy oopgaan, en daarna soos mal goed op en af in die straat te hardloop terwyl ek soos ‘n sot agter hulle aanhardloop en skree nie.

6. Ek het ten minste een watersport beoefen oor die naweek.

7. Ons het by vriende gehoor van ‘n goedkoop, betroubare argitek en bouer om te kontak vir aanbouings aan ons huis.

8. Ek het die nuwe stel gholfstokke wat ek gaan koop geïdentifiseer.

9. Ek het al die DIY takies wat nog gedoen moet word in my vrou se nuwe spreekkamer afgehandel.

10. Ek het kontak gemaak met Dirk “Dadel, Adder” Kotze, wat sopas in die Land-van-melk-en-heuning™ aangekom het.

120_2045.JPG

Na vele versoeke is die gewilde “Waar in die wêreld?” kompetisie weer terug.  Die eerste persoon wat die plek waar die foto geneem is kan identifiseer wen 10 000 Fidentia aandele, of 10 000 Zim dollars, watter een ook al op daardie stadium die meeste werd is.

Die terugvoer op Maksideem se post oor bekendes het my laat wonder wat die grootste wolhaarstorie is waarmee ek nog weg gekom het.  Waarskynlik die keer in my eerstejaar op universiteit toe ek ‘n arme dame in Lydia (wat was haar naam Roelof?) voordeur toe geroep het en oortuig het dat ek saam met haar op skool was, al onthou sy my glad nie.  Met Maksideem se hulp (hy het haar kamermaat gecharm of so iets) het ek allerhande feite oor haar verlede uitgevind, en vir haar vertel asof sy my moes ken.  Dit was so oortuigend dat sy naderhand haarself oortuig het dat sy my wel onthou.

Mense is tog soms so naïf.  Wat is jou grootste spekskietstorie?

Ek voel goed oor die maande van Maart en April. Nie net omdat ek uitsien na die KKNK nie, maar selfs meer omdat die pajamakrieket wêreldbekertoernooi in daardie 2 maande afspeel. Hierdie jaar het ons geliefde Proteas hulle beste kans nog. Hier is hoekom ek so sê:

1. Sielkundige oorhand: Ons is finaal van die “chokers” naam ontslae. Nie net is ontslae daarvan nie, maar Australië het dit by ons oorgeneem danksy Engeland se oorwinning in die Commonwealth Bank reeks, en natuurlik daardie wonderlike 438 wedstryd op die Wanderers (aka “The Best One Day EVER™”). Dit is iets wat hard uitgebasuin moet word, al is dit net om Australië se aandag bietjie af te lei terwyl hulle kliphard probeer verduidelik hoekom hulle dit nie is nie.

2. Swakpunte wat nie so swak is nie: Ons grootste tekortkoming is dat ons nie ‘n kwaliteit draaibalbouler het nie. In die Wes-Indies kan ‘n goeie span wegkom daarmee. In die laaste 2 toere na die Windies het ons die reekse 5-2 (2001) en 5-0 (2005) gewen. Op beide toere was Justin Ontong die draaibalbouler, en hy het in totaal net 42 boulbeurte geboul in die 12 wedstryde (waarvan hy net in 8 gespeel het) teen ‘n gemiddeld van 60.66.

3. Vorm: Al die wedstryde in die wêreldbeker is dagwedstryde (geen middag-aand), wat die wen of verloor van die loot baie minder belangrik maak. Ons het 88% van ons dagwedstryde gewen die afgelope 12 maande, teenoor Australië se 71% (onthou die 438 wedstryd, dit was ‘n dagwedstryd). Nog meer onlangse vorm wys dat ons die laaste 6 maande 78% van ons eendagwedstryde gewen het, teenoor Australië se 74% (5/5 van ons dagwedstryde, Australië 1/1). As ons Woensdag (14/2) die laaste wedstryd teen Pakistan op die Wanderers wen, en Australië verloor teen New Zealand in hulle 3 wedstryd reeks wat van Vrydag af plaasvind, word ons die no 1 span in die ICC se ranglys. Net 2 jaar terug was ons 7de.

4. Sterkpunte wat baie sterk is: Met Jonty Rhodes as die nuwe veldwerkafrigter is ons weer die beste veldwerkspan in die wêreld. In hoë-druk wedstryde is veldwerk wat baie keer die verskil maak. As dit kom by die laaste 15 boulbeurtelopies moker is ons ook huidiglik die beste daaraan toe, veral nou dat Andrew Symonds se kanse om in die wêreldbeker te speel maar skraal lyk. Ons het die no 1 en no 3 boulers in ons span (Pollock & Ntini), ons het uit eindelik weer ‘n openingspaar kolwers wat ons beurt goed kan begin, en in Jacques Kallis en Ashwell Prince die ideale middelorde ankers vir die kere wat ons nie so goed begin nie.

5. Die geluksgodin skuld ons: Ons moet die ongelukkigste span in die geskiedenis van wêreldbeker krieket wees : In 1992 die reën in die semi-finaal teen Engeland; in 1996 Brian Lara wat een van sy onkeerbare beurte speel in die kwarteindrondte; in 1999, wel ons almal weet presies hoe groot die ongeluk ons daardie jaar gery het; en in 2003 ‘n kombinasie van reën, druk, te veel verwagting en ‘n kroekspul deur ander lande wat hulle wedstryde verbeur het (te min mense besef dat indien New Zealand nie hulle wedstryd teen Kenia verbeur het nie, ons eerder as Sri Lanka sou deurgegaan het na die volgende rondte).

Hierdie jaar voel vir my soos ons jaar. En as ons dit dan nie maak nie, mag die Windies dit maar wen.

Volgende Blad »