Augustus 2006


Vir my 100ste post, ‘n vraag oor moderne joernalisme. Wat is deesdae plagiaat? Is dit aanvaarbaar om ‘n artikel woordeliks van ‘n ander bron af te plaas, sonder om die ander bron krediet te gee? Werk dit anders as die bron een van die nuusagentskappe (nuus groothandelaars) soos AFP of Reuters is? Is dit dan maar net kleinhandel in iemand anders se nuus wat aangekoop is? Hier is ‘n voorbeeld.: Dieselfde artikel verskyn op News24, IOL en Mail and Guardian Online. Net M&G wys dat die artikel van AFP af kom.

Kleinhandel of plagiaat?

John staan op $500 000 in Who Wants To Be A Millionaire. Die aanbieder verduidelik vir hom hoeveel hy nou gaan verloor as hy verkeerd antwoord en hoe ernstig die situasie nou is. Dan kom die vraag:

Which of these US presidents appeared on the TV show “Laugh-in”?
A. Lyndon Johnson
B. Richard Nixon
C. Jimmy Carter
D. Gerald Ford

John vra om sy “phone a friend” lifeline te gebruik (hy het nog al 3 oor op daardie stadium), en bel sy pa. Die aanbieder verduidelik aan sy pa dat sy seun sy hulp nodig het om $1 miljoen te wen en dat die volgende stem wat hy gaan hoor sy seun gaan wees. Dan sê John vir sy pa dat hy nie sy hulp nodig het nie, hy bel net om te sê hy gaan die miljoen wen, want die antwoord is B. Koel soos ‘n komkommer.

Kyk maar self:

Hier volg ‘n paar mites uit die kombuis:
- Vleis wat op hoë hitte verbruin word smaak beter want dit seel die sappe in.
- Koeksoda in jou yskas absorbeer die slegte reuke.
- As jy vleis sout voor jy dit gaarmaak gaan dit taai wees want dit trek die vloeistof uit die vleis.

Almal onwaar. Vir wetenskaplike bewyse dat die bostaande en nog ander onwaar is kan jy op hierdie webblad gaan loer.

Nog ‘n paar ouvroustories:
- Kougom neem 7 jaar om te verteer as jy dit insluk.
- Hare groei weliger of donkerder terug na dit geskeer is.
- As jy gaan swem binne ‘n uur na jy ge-eet het sal jy krampe kry en verdrink.

Dis seker hoekom Mythbusters een van my gunsteling TV programme is.

Daar is mense met te veel tyd:
Star Wars in ASCII

Die agente van Improv Everywhere het onlangs weer ‘n nuwe missie uitgevoer: Stadige aksie inkopies in ‘n groot DIY winkel. Ek het al voorheen oor Improv Everywhere geblog.

http://xkcd.com/ is ‘n webcomic oor “romance, sarcasm, math, and language.”

Hierdie selfportret is een van my gunsteling MM Botha kunswerke. Van sy ander kunswerke kan op sy virtuele gallery gesien word.

Kicks van Love Jones kry nogal heelwat lugtyd op radio op die oomblik. Ek hou nogal van die liedjie, en toe ek bietjie op google gaan soek vir Love Jones, kom ek agter hulle is Suid-Afrikaans. Ek raak so opgewonde as ek goeie S.A. musiek wat ek van hou ontdek, dat ek dit met almal wil deel. Love Jones kom van Durban af, en hulle musiek is regtig goed. Ek weet nie hoekom ek nog verbaas is as ek sulke goeie S.A. musiek hoor nie, miskien omdat daar nie eintlik so iets was toe ek op skool was nie. Gaan luister na Love Jones (Kicks hier onder), en as jy daarvan hou, koop die CD. So kan ons hopelik sorg dat meer kwaliteit S.A. musiek gespeel word, en minder Amerikaanse gemors in ons ore af geforseer word.

Een van die besigheidsidees wat ek nou al die afgelope jaar of twee mee speel, is om ‘n webwerf te hê waar mense hulle fotos kan oplaai om te laat druk. ‘n Paar dae later kom die fotos dan in die pos. Foto.com is ‘n goeie voorbeeld, maar ek soek iets local. Die sleutel sal wees om dit goedkoper te doen as wat jou fotowinkel in die dorp dit kan doen (wat nie moeilik behoort te wees nie), en om jou die moeite te spaar van ingaan dorp toe en parkeerplek soek net om ‘n paar foto’s te laat druk. Ek ontdek toe onlangs daar is reeds so ‘n website in SA : eprints. Hulle pryse is baie billik (R1,40 vir ‘n 6″x4″ jumbo), en aflewering kos net R9.50 (weeg dit op teen die moeite om in te gaan dorp toe en die hassle van die parking guard). Daar is natuurlik die kwessie van die upload wat jou internet bandwydte vreet, en dus geld kos hier in S.A. danksy Telkom, maar dit sal hopelik nie meer lank so wees nie. (Terloops, ek glo daar is ‘n hel, en dis spesiaal vir mense en maatskappye soos Telkom)

Die meeste van my besigheidsidees sentreer rondom ‘n diens wat ek van gebruik wil maak, maar nie bestaan nie. Of as die diens wel bestaan maar so swak is dat ek dink ek kan dit beter doen. So ek gee glad nie om om websites soos eprints te ontdek nie, al maak dit my idees een minder. Nou kan ek ten minste goedkoop fotos laat druk.

Gelukig het ek nog baie idees. Weet iemand of daar al ‘n webwerf is wat boeke verkoop?

Lammervanger maak op maree se blog die opmerking dat sommige christene ander mense veroordeel en sê hulle gaan nie hemel toe nie, maar in dieselfde asem sê hulle “ons mag nie oordeel nie”. Ek wonder al lank waar lê die lyn tussen oordeel en teregwysing? As christen verstaan dit min of meer so:

As ek vir iemand wat ek nie lief het nie sê hulle gaan hel toe omdat hulle iets doen of dink, dan is dit oordeel. As ek vir my vriend wat ek liefhet waarsku dat waarmee hy of sy besig is nie reg is in God se oë nie, omdat dit homself of ander mense rondom hom of God seermaak, dan is ek besig om daardie persoon te probeer help uit liefde. Die verskil tussen die 2 lê waarskynlik in hoe die betrokke persone dit ervaar (met of sonder liefde). Die persoon wat tereggewys word kan natuurlik maklik die “jy mag nie oordeel” lyn gooi en dit ‘n argument maak, wat op die ou end dan net die vriendskap versuur.

Ek wonder baie hieroor die laaste ruk, en het onlangs tot die volgende gevolgtrekking gekom: Ek is nie hier op aarde om ander mense van hulle sonde te oortuig nie. Ek is hier om ander mense by God uit te bring, die Heilige Gees sal hulle dan van hulle sonde oortuig.

Menings?

Volgende Blad »