Ek het hierdie video nou die dag op Die Burger se webwerf raakgeloop. Ek kry dit nie meer op hulle werf nie (die nuwe webwerf is nie baie gebruikersvriendelik nie, hulle beter dit vinnig regmaak of hulle gaan lesers verloor). So dis is ‘n kopie. Dis jammer die kwaliteit is so swak, maar mens kan darem sien en hoor dat daar eintlik niks gebeur het vir so ‘n groot bohaai nie.
Junie 2006
Junie 30, 2006
Junie 30, 2006

‘n Anachronisme as ek al ooit een gesien het. Hierdie ou is die tipe wat mens vinnig moeg maak op ‘n trip in Europa. Moeg daarvan om uitgebuit te word, moeg daarvan om gepes te word vir geld. As hy gesien het dat ek hom afneem sou daar ‘n woordewisseling ontstaan het wat net sou eindig deur vir hom geld te gee.
Junie 30, 2006
Junie 28, 2006
Rondloper vra op sy blog waar die verste punt op die aarde van Suid-Afrika is. Die punt die verste van ‘n sekerre plek op aarde word daardie plek se antipode genoem. Volgends die onderstaande kaart is dit ‘n net noord van Hawaii in die Stille Oseaan vir Suid-Afrika. Die kaart is eintlik 2 kaarte, een in swart, nog een in rooi. Die rooie is ‘n omgekeerde spieëlbeeld van die swarte, so deur van swart na rooi, of andersom, te gaan kan jy die antipode van enige plek kry. Dis interessant om te sien dat meeste van die aarde se landmassa se antipode erens in die see is. Argenteine en Chillene sal egter in China uitkom as hulle lank genoeg grawe, en van Botswana kan jy tot in Hawaii grawe.

As jy nie mooi die kaart verstaan nie, ek het dit hier gesteel, gaan kyk daar vir ‘n verduideliking.
Junie 28, 2006
Rondloper sê hy het vir Stepehen Hawking hoor sê hy dink niemand gaan ooit terug in tyd kan reis nie, anders sou ons al tydreisigers van die toekoms af gesien het. Wat sal jy dink as iemand jou meedeel hy kom eintlik uit die jaar 2036? Jy sal dink: “Ja broer, jy moet maar saam met Jacob Zuma ‘n sielkundige gaan sien.” So wat as ons al tydreisigers gesien het, maar niemand wou hulle glo nie? John Titor het in 2000 op die internet begin vertel dat hy uit 2036 kom en terug gestuur is om ‘n oplossing te probeer kry vir die ekwivalent van hulle tyd se Y2K probleem. Daar is heelwat mense wat glo dat hy die waarheid gepraat het, so dalk is tydreise wel moontlik, al is dit eers in 2036.
Junie 26, 2006
Ek het die naweek John Steinbeck se Grapes of Wrath klaar gelees, en ek het dit nogal geniet. Dit was vir my ‘n baie interessante blik op Amerika in die Groot Depressie. Dit het my laat dink aan hoe die Afrikaners saamgestaan het in daardie tyd, in so ‘n mate dat hulle aan bewind gekom het en apartheid begin het. Dit kon so maklik anders gewees het as hulle nie ten koste van ander saam gestaan het nie, maar eerder ten bate van die hele Suid-Afrika. Ek wonder soms hoe die toekoms verander sou kon word as mens een gebeurtenis kon stop (dis seker hoekom Back to the Future een van my gunsteling flieks van alle tye is). Sê nou maar iemand kon teruggaan en vir Jan Smuts gehelp het om die verkiesing in 1948 te wen, hoe sou S.A. dan gelyk het in 2006? Wat as die Fagan Komissie se standpunt gewen het en die Sauer Komissie verloor het? Sou apartheid ooit begin het? Sou ware demokrasie vroeër as 1994 gekom het?
Of wat as iemand net vir Allan Donald kon gesê het om te hardloop as Klusener roep? Sou Hansie Cronje dan nou nog geleef het?
Junie 26, 2006
Peulnael – ‘n Woord wat gebruik word om te beskryf dat mens baie ge-eet het. bv “Die skaaprib was so lekker dat ek myself peulnael ge-eet het daaraan.” Voor mense begin opgewonde raak oor presies wie die woord eerste uitgedink of gebruik het, dit was nie ek nie. Ek het dit gehoor by iemand wat as Vaalhoek bekend staan op Williston se golf-en-jag-naweek.
Junie 14, 2006
Sir Richard Hadlee is een van New Zealand se beste bouwlers ooit. Sy vriende en spanmaats het hom “Paddles” genoem, klaarblyklik omdat hy groot voete gehad het. Daar is ‘n staaltjie wat vertel dat ‘n sportjoernalis eendag vir Sir Richard gevra het of dit hom nie pla dat mense hom Paddles noem oor sy groot voete nie. Sir Richard het glo geantwoord dat dit hom glad nie pla dat hy ‘n bynaam gekry het omdat ‘n ligaamsdeel so groot is nie, en dat nie almal hom Paddles noem nie, sy vrou noem hom Dick.
Junie 13, 2006
Soos julle seker al egtergekom het, ek is mal oor travel. Ek is baie jaloers op mense soos rondloper en maksideem, ek wil ook vir maande aaneen. Een van die grootste redes hoekom ek so mal is daaroor is omdat mens soveel snaakse staaltjies het om na die tyd te vertel. Ek begin net al wonder of ander mense my staaltjies soveel geniet soos ek dit geniet om dit te vertel. Ek put genot daaruit omdat dit my toelaat om die situasie weer te herleef. Ek vind dat dit baie soos foto’s van jou vakansie is, mense wat nog nie daar was nie is nie eintlik baie geinteresseerd in jou vakansiefoto’s nie, maar die wat al daar was geniet dit wel, seker omdat dit hulle dan ‘n kans gee om hulle staaltjies van die plek te vertel. So hier is ‘n staaltjie vir almal wat al in Italië was:
April 2004: Ons het sopas by Venisië se lughawe geland, en die motor wat ons huur opgespoor. Eerste ding wat ek doen is om my GPS navigasiestelsel in te prop. Dis waarskynlik een van die top 5 goed wat mens kan aanskaf vir jou huwelik as jy in Europa bly (die ander 4 is iets wat ek dalk in ‘n ander post moet bespreek). In plaas daarvan dat jou wederhelfte ‘n vreemde kaart moet ontsyfer en sê waar om te draai (wat natuurlik tot reuse struwelinge lei), tik jy net vir TomTom jou destinasie in en ‘n vriendelik tannie met ‘n Britse aksent lei jou tot by die voordeur. Selfs wanneer jy nie na haar luister nie en effe verdwaal soek sy vir jou ‘n nuwe roete en bring jou weer op die regte pad. Soos julle kan aflei was ek baie afhanklik van die ding (veral in Italië), en het ek nie eens gesmile toe die ou by die Avis toonbank vir my so ‘n belaglike klein A4 kaart met die hele Italië op gee nie, want ons het mos TomTom om ons te help. Probleem is toe net dat die Fiat Punto se sigaretaansteker toe nie werk nie, wat beteken TomTom sit sonder krag. Ek haas my toe terug na die Avis toonbank, en verduidelik vir die man my GPS werk nie as daar nie krag is nie, en dat ek ‘n ander motor soek. Hy kyk my so, kyk na die belaglike klein A4 kaartjie en sê “But you’re young, and you have a map!”.
Die uiteinde was dat ons gelukkig ‘n ander Punto gekry het, en dat ons nou nog in Rome in ‘n sirkel sou gery het as ons nie krag gehad het vir die Britse tannie nie. As iemand ‘n huwelik het om te red in Europa, my GPS stelsel is te koop, met al die kaarte van Europa. Glo my, dis selfs meer werd as ‘n skottelgoedwasser.
Junie 12, 2006
Verbeel jou jy sit nog rustig in jou bootjie op Lake Peigneur en visvang, en skielik loop die hele meer leeg asof iemand die prop uit die bad uitgetrek het. Dis presies wat gebeur het in 1980, toe ‘n olieboor, wat besig was om in die meer te boor, per ongeluk ‘n soutmyn onder die meer raak geboor het en die hele meer se water toe in die myn in gestroom het. Gelukig is niemand deur die maalkolk ingesuig nie, en die myners kon ook almal betyds uitkom. Lake Peigneur is in Louisiana, VSA, naby aan Avery Island. As Avery Island vir jou bekend klink, kyk volgende keer wat jy Tabasco eet na die botteltjie, dis waar elke liewe botteltjie Tabasco vervaardig word.

